Dit was ’n pragtige Saterdagoggend. Ek het al ’n tyd gelede opgehou drink en het na myself begin kyk. Ek wou dieselfde persoon wees wat Nomtha onthou het. Ma het ’n hotelkamer vir my en Nomtha gereël. Dit het weird gevoel dat my ma my ‘affair’ met my broer se vrou manage. Maar Nomtha het gevra dat dit so moet wees, dus het ek dit so aanvaar.

Terwyl ek ontbyt eet, kry ek ’n WhatsApp van my ma:

Ek het die bespreking onder jou naam gemaak by die Regal Hotel.

Nog een volg kort op die eerste boodskap:

Nomtha sal jou daar ontmoet.

Dis uiteindelik aan die gebeur, dink ek. Ek maak reg en ry na die hotel. Toe ek daar aankom, voel dit of ek ’n ewigheid wag. Ek loop ongeduldig heen en weer. Net toe ek vir Nomtha wil bel, klop iemand aan die deur.

“H-h-haai,” sê ek verras en oorweldig. “Jy … jy lyk mooi,” hakkel ek.

“Moet dit seblief nie awkward maak nie,” sê Nomtha.

“Awkward?” sê ek vies. “Dit is awkward, Nomtha. Ek is hier om jou huwelik te boost sodat jy kan teruggaan en happy family saam met die goue seun kan gaan speel, terwyl ek moet teruggaan na my pyn,” sê ek vol woede.

“Hier gaan ons al weer! Luphelo dit, Luphelo dat. Dink jy jy’s die enigste een wat swaar kry? Ek kry ook swaar, ek het swaar gekry, skreeu sy, iets wat sy selde doen.

Die woorde tref my in die hart, ek voel skuldig en besef hoe selfsugtig ek was.

“Hoekom los jy hom nie? Ons het die kans gehad, ons het dit nog steeds.”

“Ek kan nie,” sê sy en begin huil.

“Ek is jammer, babe,” sê ek en neem haar in my arms.

“Ek is lief vir jou, Lu, jy weet dit. Ek moes dit doen. My familie het my nodig gehad,” huil sy verder.

Dit is die tweede keer dat sy weerloos is by my en dié keer is ons op ons eie en kan ek haar so lank vashou as wat ek lus het. Ek hou haar gesig met albei my hande vas, vee haar trane af en sê: “Lag.” Dit het haar nog altyd laat lag en dit werk nou ook.

“Jy’s ’n idioot!” giggel sy terwyl sy haar trane afvee.

“En jy is ’n groot baba!” lag ek terug.

Die atmosfeer het verander en is meer ontspanne. Ek kyk na haar en soen haar. Ons soen passionately, asof ons probeer opmaak vir die tyd wat ons verloor het. Nomtha en ek gaan lê op die bed en dit bring herinneringe terug, laat iets herleef wat ek probeer uitdoof het.

In die maande daarna het Nomtha en ek mekaar steeds bly sien, selfs ná sy swanger was, want ons het nooit opgehou om mekaar lief te hê nie.

***

Vertel ons: Wat dink jy gaan gebeur wanneer Sicelo uitvind dat Luphelo en Nomtha mekaar steeds sien?