Ek sit hier met my broer se bloed op my hande, en voel skuldig. Ek het nie my broer se huwelik gerespekteer nie en dit het tot sy dood gelei. Ek kan skaars asemhaal as ek daaraan dink. Hoe kon ek so iets doen?

Ek kyk op. Nomtha huil. Ek kan ook nie my trane inhou nie, en ek is skielik spyt dat ons nie destyds almal van ons verhouding vertel het nie. Sou dit beter gewees het as hulle geweet het Nomtha en ek is saam en as die samesmelting bevestig is deur ’n huwelik tussen my en Nomtha? Maar ek was nie pa se goue seun nie, ek was nie die hoof- uitvoerende beampte van Maduna Mining nie.

“Luphelo.”

Nomtha se snikkende stem bring my terug na die werklikheid. “Wat gaan ons doen?” vra sy.

Ek probeer sterk wees en vee my trane af. Nomtha sit haar hand op my rug in ’n poging om my te troos terwyl ek die nodige oproep maak.

“Sana lwam’,” antwoord my ma vrolik. Ek kan my pa in die agtergrond hoor lag, hulle het geen idee wat hulle gaan hoor nie. Ek kan nie help om te dink oor hoe dit my pa gaan seermaak nie.

“Lu, sê iets,” vra my ma.

Ek ruk my reg. “Mama!” my stem kraak. Ek wens dit was nie ek wat hierdie nuus aan haar moet oordra nie.

“Luphelo, wat gaan aan?” vra sy bekommerd.

Ek kan dit nie help nie, ek begin huil.

Nomtha neem die foon by my. “Mma, hier’s ’n noodgeval, kom asseblief na ons huis toe,” sê sy aan my ma en sit die foon neer.

Hulle daag kort daarna op. “Luphelo! Nomtha!” roep my ma rasend van bekommernis en vrees uit.

Ons sit langs Sicelo se liggaam. Ons het vergeet om die polisie te bel. Ons is nog halfkaal. My ma kyk teleurgesteld na ons.

“Luphelo wat het jy gedoen?” vra sy, huilend. Ek kan nie antwoord nie. Ek begin weer van voor af huil. My pa kyk na my asof hy my wil doodmaak en homself daarvan moet weerhou.

“Het julle ’n ambulans gebel?” vra hy, sy stem breek soos hy sy emosie probeer wegsteek.

“Dit was te laat, toe bel ons eers vir Ma,” antwoord ek en vee my trane af.

“Ek sal die polisie en die ambulans bel,” kom my ma tussenbeide. Terwyl sy bel is daar ’n ongemaklike stilte.

“Liewe hemel, gaan trek net klere aan!” roep my pa uit. “Of wil julle hê die hele wêreld moet weet jy het by jou broer se vrou geslaap? Wil jy hê die media moet op ons toesak? Dit gaan ons familie se beeld erge skade aandoen.”

“Wat is fout met Pa!” skreeu ek terug. “Die enigste ding wat vir Pa saak maak is die familie se beeld, wat die koerante dink, wat die raad gaan dink. Pa se seun is dood en Pa dink oor die media?”

“Hayi Luphelo,” kom my ma weer tussenbeide. Ek kan sien my pa wil of die laaste sê hê of my verwurg.

Die polisie daag op. Nomtha vertel hulle wat gebeur het. Dit is ook die eerste keer dat my ouers die hele storie hoor. Die polisie vra vrae, ek en Nomtha antwoord hulle eerlik.

“Het julle twee ’n verhouding gehad?” vra een polisiebeampte.

Nomtha kyk na my en ek sien sy wil nie eintlik die vraag beantwoord nie.

“Ja, ons het,” antwoord ek.

My pa staan op en loop uit die vertrek.

Sicelo se dood word as ’n ongeluk verklaar, maar die koerante sak op ons toe. Ek word as die slegte broer uitgebeeld en op een of ander stadium oortuig ek myself dat dit waar is. Nomtha word ’n slet genoem in die media en op sosiale media.

Die begrafnis vind drie weke later plaas. Ek staan langs my ma. My pa staan en huil oor die graf. Hy kan nie eens na my kyk nie. Ek dink hy haat my; hy het nog nie een woord vir my gesê ná daardie aand nie.

“Lu sana lwam’, ek het klaar een seun verloor, ek wil nie nog een verloor nie,” se my ma en druk my hand styf vas.

Ek huil die eerste keer sedert daardie aand.

Sy druk my teen haar vas. “Jy mag nooit weer dinge vir my wegsteek nie.”

Ek dink sy weet. Ek kyk om en sien vir Nomtha. Sy kyk op, haar oë vol trane. My ma loop na Nomtha en sit haar arms om haar. Nomtha gee in en begin huil. Sy laat al die trane val wat sy al jare lank inhou. Is dit die prys wat ons moet betaal? ’n Lewe vir liefde?

***

Miskien wel, want twee jaar later is ek op ’n strand in Kaapstad, besig om te kyk hoe my vrou, Nomtha, en ons seun, Sekani, oor die sand hardloop. Ons het die naam Sekani gekies, want dit beteken ‘vreugde’. Ons hoop hy kan vir ons vreugde bring en ons op hierdie nuwe lewensreis saam loods. ’n Lewe so ver moontlik van die herinnering aan Sicelo se dood.

*****

Vertel ons: Wat dink jy van hierdie storie?