Joey Figaro, ’n maer man in sy vyftigs, verskyn uit die donkerte wat die polisiestasie se werf omhul en strompel die aanklagkantoor binne. Hy gaan sit op ’n stoel voor die toonbank. Die twee polisiemanne aan diens kyk vlugtig op. Een, ’n konstabel, dra uniform, die ander, ’n reservis, luister na ’n vrou met groen oë wat op die enigste ander stoel sit. ’n Dronkie lê op die vloer.

Joey vat ’n trek aan sy dooie sigaretstompie, druk dit dan in die grond van die potplant op die toonbank. Hy haal sy sigaretpakkie uit en steek nog een aan.

Die konstabel kyk op na Joey. “Kan ek help?”

“Ek wil hê jy moet my toesluit,” sê Joey duidelik.

Die konstabel staar na Joey. “Hoekom?”

“Sluit my toe voor ek my vrou by die huis seermaak.”

Die reservis kyk van sy skryfblok af op; begin stadig te glimlag. ’n Polisievrou kom in en kyk vlugtig na Joey se gesig. Sy gaan sit agter die toonbank en begin skryf.

“Waar bly jy?” vra die konstabel vir Joey.

“Strandfontein Village, Skoolstraat, nommer twee,” antwoord Joey.

“Dis dan net hier om die draai,” sê die konstabel.

“Sluit my toe. Ek wil net slaap,” sê Joey weer.

Die vrou met die groen oë kyk beneweld na Joey, asof sy nou net uit ’n besope slaap wakker geword het. Hy bied haar ’n sigaret aan, wat sy dankbaar aanvaar.

“Hoekom is jy hier?” vra Joey haar, ignoreer die konstabel.

“My stiefpa het my uitgeskop. Hy’s ’n regte blikskottel,” sê sy.

Die dronklap op die vloer maak sy broek nat, tot die skouers van sy baadjie is gou nat van die groeiende kol urine. Hy draai op sy sy, onbewus van die wêreld om hom. Sy voete stink deur sy verweerde tekkies. Joey wil hom klap. Hy hou nie van mense wat nie was nie.

Die reservis voltooi sy taak, vat die vangwa se sleutels van die hakie af en kyk vraend na die polisievrou, wat opstaan en hom van agter die toonbank volg. Die reservis sleep die dronkie tot in die hoek agter Joey, dan loop hy en die polisievrou uit die aanklagkantoor en verdwyn in die donker van die polisiestasie se werf.

’n Minuut later kom die vangwa aan die gang. Die vangwa se radio kraak toe dit die polisiestasie se werf verlaat. Joey laat sak sy kop op sy arms op die toonbank. Hy is al van sewe-uur vanoggend op.

Janey, met wie hy al dertig jaar getroud is, was op die punt om die huis te verlaat om werk toe te gaan, toe sy hom herinner dat hy haar drie-uur moet oplaai.

Nadat sy weg is, het hy sy kar na Eugene, sy mechanic, geneem om na ’n olielekplek te kyk. Eugene is ’n ou vriend van Joey en nadat die olieseël vervang is, het Eugene ’n paar biere oopgemaak en hulle het na ’n bietjie jazz geluister. Elke nou en dan het ’n motor daar gestop met ’n eenvoudige probleem. Dan maak Eugene dit reg en steek die geld in sy sak nadat elke taak afgehandel is.

Die tyd het verby gevlieg en voor Joey hom kon kry, was dit vieruur. Hy was te laat om Janey op te laai en hy het geweet sy gaan vies wees.

Hy het dit oorweeg om huis toe te gaan, maar toe besluit hy om eerder te bly en saam met Eugene uit te hang. Janey sou in elk geval ’n herrie opskop. Daarop of daaronder. Hy doen mos niks verkeerd nie. Hy chill net saam met ’n vriend op ’n luilekker Saterdagmiddag.

Dit was eers veel later, toe Joey ’n pakkie sigarette in sy kar gaan haal, dat hy die huissleutel in die paneelkassie sien. Toe besef Joey die rusie met Janey gaan groter wees as die meeste rusies wat hulle die afgelope tyd gehad het.

Die laaste paar maande was Janey dikwels humeurig en kort van draad. Dit het begin toe hy ses maande tevore afgedank is. Janey bekommer haar altyd, maar sy weet nie dat Joey nog R50 000 in ’n afsonderlike bankrekening weggebêre het nie. Dis geld wat Joey, ’n hustler en slim entrepreneur, oor die jare afgeknyp en gespaar het.

Hy wou haar al ’n paar keer daarvan vertel, maar omdat sy so buierig was, het hy daarteen besluit.

***

Vertel ons: Wat is jou opinie oor Joey op hierdie punt in die storie?