Die sandkorrels kners tussen haar tande. Mthabiseni Moremi weet daar moes weer in die nag ’n stofstorm gewees het, want selfs die matras waarop sy lê voel grof van die sand.
“Staan saggies op,” fluister ma Loago wat agter haar lê.
Sy doen wat haar ma vra.
Die ou carpet wat Ma by miesies Kruger gekry het, het ook ’n sandlagie oor. Sy loop op haar tone na die ander deel van hulle sinkhuis om vuurhoutjies te kry.
Haar hande weet al waar dit is, en haar oë is gewoond aan die donker.
Ma se gesig verskyn in die vlam se lig toe Mthabiseni gisteraand se kers aansteek. “Ek gaan gou regmaak,” fluister Ma.
Die kraak van die selfgemaakte deur laat ouma Lutha kreun.
Mthabiseni kan net-net haar twee klein boeties se gesiggies weerskante van Ouma uitmaak.
Sy draai die gasbottel oop en steek die plaat aan die brand. Die vlammetjie brand van gister af dowwer. Hulle sal die gasbottel moet vol maak, maar dit is nog nie eers die einde van die maand nie.
Vanmiddag sal sy nog water ook moet gaan tap. Die tou by die enigste kraan hier naby was gister hopeloos te lank.
Haar hande bewe liggies toe sy die water in die pot gooi. Nou moet dit net kook.
“Die deur moet oop as die gas aan is,” praat Ma toe sy weer terug is. Haar oë lyk moeg en diep in haar kop.
“Jammer, Mammie. Is daar tyd vir eet?”
Ma skud haar kop heen en weer. “Gee sommer ’n slice brood. Ek sal in die loop eet anders is ek laat vir die bus,” sê sy en loer terug of die twee kleintjies nog slaap.
Mthabiseni sit twee snye brood in ’n plastieksakkie. Netso droog. Die margarine is al laasweek klaar.
“Los die sakkie, ek is laat,” sê Ma en gee vir Mthabiseni ’n klapsoen op die wang. Sy vat tog die brood wat Mthabiseni in die sakkie aangee.
Ma warrel by die deur uit wat op ’n skrefie oop is.
Die water kook, en Mthabiseni gooi van dit in bekers uit. Sy roer flou koffiepoeier by drie bekers water in. Die vierde beker kry ’n teesakkie. Kleinboet Kas mag nog nie koffie drink nie. Hy is sewe maande en sy formula is ook amper klaar. So sy wissel dit met tee af.
Die driejarige Rio staan met halfoop oë langs haar.
“Koffie,” mompel hy.
“Eers piepie,” sê sy en wys vir hom na die deur. “Nie ver nie.”
Hy loop sleepvoet buitentoe.
Mthabiseni skep ’n bietjie mieliemeel in die kookwater wat nog in die pot is en stel die vlammetjie kleiner. Sy sal moet opskud. Haar opstel moet nog klaar geskryf word.
Binne twintig minute is daar meer geraas buite soos almal hulleself vir die dag begin gereed kry.
Binne daardie twintig minute maak sy die pap klaar, het sy ouma gehelp was énRio en Kas aangetrek wat toe al besig is om te eet.
Ouma sit met Kas in die bed terwyl Mthabiseni haar opstel by die kerslig klaar skryf. Sy skryf oor die Kalahari, oor die stofstrate waarlangs sy elke dag moet stap. Oor hoe koud dit raak in die winter en die muskiete, vlieë en stank in die somer.
Ma sê altyd, mens kan arm wees, maar jy mag nie lui wees nie. Sy sit dit ook sommer in haar opstel.
“Gaan Gogo reg wees?” vra Mthabiseni toe sy haar skoolsak klaar gepak het.
“Tja, ek is maar net hier,” antwoord ouma Lutha en vryf Kas se koppie toe hy knieserig raak.
“Ek saam,” kerm Rio langs die skooltas. “Ek saam. Ek saaaaam!”
Mthabiseni sak op haar hurke sodat sy hom in die oë kan kyk. “Mammie gaan nie happy wees nie. Jy gaan een van die dae mos saam,” troos sy.
Die trane maak spore oor sy wangetjies. Daar is nog droë traanmerke van netnou omdat daar nie suiker in die pap en koffie was nie.
“Mthabieee …” snik hy.
“Shhh, jy’s groot en soet.” Dit kalmeer hom altyd.
Teen die tyd wat sy seker maak die gas is af en die kombuishoekie is aan die kant, het Kas en Rio weer aan die slaap geraak.
Sy begin om die 7 km na Hoërskool Clarino te stap.

Vertel vir ons: Moet jy ook soms help om julle huishouding aan die gang te hou?