Ek staan op die treinstasie. Ek het die nommer wat die berader vir my gegee het in my sak as ek dit nodig het, van die vrou wat altyd haar deur vir my sal oophou. Die trein terug na my area kom oor twaalf minute, sê die skedule.

Ek het my rugsak. Ek het my foon gelaai voor ek weg is. Dit was drie hele dae af omdat ek nie ʼn charger gebring het nie.

Ek was te skaam om vir een te vra, maar toe het die opsigter by die skuiling my gewys waar ek dit by die terminal in die biblioteek kan inprop. So ek het batterylewe. Toe ek dit aanskakel kom omtrent twintig boodskappe in my inbox in. My foon buzz elke keer as een inkom.

Lwandile:
dude lewe jy? ons so worried. love you bly asb veilig

Faith:
levi bel my seblief apparently het jy weggeloop x so worried ek wetie wat om jou auntie te sê nie x so worried please call me

Ncumisa:
Babe, x so jammer oor als. Weet seblief dat ek jou sal support maki saak wie, wat, waar en wanneer jy is ni. Jys amazing. Lief vir jou. Jys indestructible. Bel my as jy my nodig het, k? Xxx

Antie:
My liefie bel my asseblief ASAP.

Ek bel auntie Blessing. Sy tel dadelik op.

“Waar was jy?” vra sy.

“Ek’s jammer. Ek het verdwaal in die stad en … ek sal auntie vertel as ek daar is. Ek kom vandag huis toe.”

Dankie Vader, dankie vader dat jy veilig is. Ai, my kind …”

Sy huil.

“Moet seblief nie huil nie, auntie,” sê ek, want dit maak dat ek ook wil huil.

“Is jy veilig? Is jy okei? Niks het met jou gebeur nie?”

“Auntie, ek is springlewendig,” lag ek, jok ʼn bietjie. Sy is ʼn sekonde lank stil en ek kan haar hoor snuif.

Bless you, kind. Ek weet hoe dit vir jou is in ons buurt. Mense is so wreed.”

“Hulle kan wees.”

“Hulle is! Die manier waarop hulle jou behandel. Dis … dis nie reg nie! Maar ek sal vir jou opkom.”

“Nie almal is haters nie, auntie, of so kom ek nou agter.”

“Rêrig? Het jy …,” en sy fluister nou, “’n boyfriend ontmoet?”

Auntie Blessing het nog altyd gesê ek is ʼn vangs en dat sy nie kan verstaan hoekom ʼn aantreklike jong gentleman nog nie my voete onder my uitgeslaan het nie.

Ek lag. “Nee, auntie Blessing, nee. Maar iemand was baie goed vir my.”

“Wie?”

“Ek sal auntie vertel as ek terug is.”

“Ek sal vir jou by die stasie wag.”

“Dankie, auntie Blessing. Baie dankie.”

“Jy moet altyd onthou dat ek vir jou lief is, my kind.”

“Ek weet.” Ons groet en ek lui af.

Die trein kom aan. Ek klim in. Die trein begin beweeg – dit tjoek-tjoek-tjoek soos dit vinniger en vinniger na my bestemming gly.

Ek kan nie wag om David te sien nie. My nuwe vriend. David. Dis nie nodig dat hy my boyfriend hoef te wees nie. Obviously nie. Hy hou van meisies. En ek aanvaar dit. Duh, ek is nie ʼn idioot nie.
Maar om te weet dat hy sterk genoeg was om vir my op te kom? Dit laat ʼn kersie in my maag gloei en maak my gelukkig.

Ek het iemand wat my verstaan, wat my beskerm teen die mense wat my wil seermaak. Dis meer werd as ʼn berg goud. Iemand wat rêrig omgee: vriendskap. Die belangrikste ding in die wêreld, en ek het dit. Ek is lucky.

Ek is stukkend geslaan, ek was al bang, iemand het gesê hulle gaan my doodmaak. Daar is op my gespoeg, ek is gespot, gedreig, gesê ek moet gehang word oor wat ek is.

Maar ek het ʼn vriend. ʼn Sterk vriend. ʼn Vriend wat weet wie en wat ek is en deur dit die regte ek kan sien, die ek wat binne-in is.

Daar’s hoop.

Selfs as die lug donker word, selfs as jy val, selfs as jy jou hande op ʼn rots sny, selfs as jy koud of honger is en alleen voel – is daar hoop.

Onthou dit altyd, okei? As jy alleen is, of bang is, of geboelie word. Jy is nie alleen nie.

Dit het met my gebeur, en ek is hier, ek lewe en ek gaan nie vir die haters wegkruip nie.

En jy moet ook nie, okei? Jy is spesiaal. Jy verdien net soveel soos enigiemand anders in hierdie wêreld om te lewe. En dit is die waarheid.

Wag net eers.

Daar is niks fout met jou nie. Moet dit nooit vergeet nie. Nooit.

***

Vertel ons wat jy dink: Kan ʼn paar goeie vriende die verskil maak aan jou geluk as daar teen jou gediskrimineer word?