“Meneer Olivier. Meneer Olivier! Kan jy my hoor?”

Die stem wat my naam roep klink ver weg.

“Meneer Olivier. Meneer Olivier. Kan jy my hoor?”

Kitty? Dit moet al vertrektyd wees by die skuiling.

“Meneer Olivier. Meneer Olivier. Kan jy my hoor?”

“Ek hoor–” My stem is hees. “Waar is ek?”

“In die hospitaal, meneer Olivier.” Ek maak my oë oop. Dis ’n verpleegster wat met my praat.

“Wat het gebeur? Hoekom is ek hier?”

“’n Ambulans het jou gebring. Jy is met ’n mes gesteek.”

Daai Chicken. Die pyn in my sy. Nou het ek niks geld vir die skuiling nie.

Die verpleegster vertel my dat ek tot by die sentrum see ingang gesteier het en inmekaar gesak het. Die sentrum se sekuriteit het ’n ambulans ontbied.

Die verpleegster sit ’n deurskynende plastieksak by my voete. “Hier is jou besittings.

My oë spring na die sak. My rugsak. “My ID? My notaboek?”

“Dis alles daarbinne.”

Natuurlik, dis hoe sy weet wat my naam is.

Die portier stoot my in die lang, ysige gange af na die saal. Ek was seker laas in die hospitaal die dag toe ek gebore is.

Ek kreun en krimp ineen toe die portier my tot op die bed help, en voel dan die koel briesie. Jirre, my boude is oop en bloot in dié hospitaaljurk – ’n volmaan helder oordag.

Ek loer om my rond en sien ses van die agt beddens is beset. Sommige pasiënte slaap, een lees, ’n ander sit en snork in die stoel langs sy bed. Die portier is op pad om te loop. “Ekskuus, hoe laat is dit?”

Hy grinnik en wys na die klok teen die muur agter die verpleegsters se stasie. “Twintig oor 12. Amper middagete.”

Middagete. Ek het twaalf uur laas geëet en my maag grom protesterend.

“Meneer Olivier,” sê ’n verpleegster terwyl sy ’n regop masjien op wieletjies na my bed toe stoot, “ek moet jou bloeddruk en koors meet.” Sy glip ’n band wat met die masjien verbind is om my arm, skakel ’n paar skakelaars aan en die band blaas op terwyl die masjien brom en biep. Sy druk ook ’n termometer in my armholte in. “Ontspan asseblief.”

“Wanneer kan ek gaan?” vra ek toe sy my bloeddruk meet.

Sy kyk vinnig op en klik haar tong. “Haibo. Jy’t maar pas hier aangekom. Dokter sal môre besluit wanneer jy gesond genoeg is om te gaan, so maak jouself maar tuis. Jy sal oornag moet bly. Jy het ’n effense koors.”

’n Gratis ete en ’n warm bed? Jackpot!

Middagete arriveer. “U kos, meneer,” sê een van die kombuiswerkers en plaas ’n skinkbord op die tafel langs die bed.

“Baie dankie.”

Ek sterf van die honger en die samp en klewerige bredie lyk soos ’n fees.

Die verpleegster kom weer ná ete terug. “Tyd vir medisyne, meneer Olivier.”

Dis dieselfde vrou wat vroeër hier was. Sy glimlag en lyk asof sy haar werk geniet. My ma het altyd gesê: “Selfs al maak jy iemand se toilet vir ’n lewe skoon, moet jy trots wees op wat jy doen.”

“H’m-’m, suster.” Ek lig my kop en skud dit. “Ek gebruik nie dwelms nie.”

“Hayi, meneer jy’t die antibiotika nodig vir die koors en infeksie. Dis of by die mond in, of,” sy klop haar agterstewe, “my gunsteling.”

H’m, ek dink sy trek net my mou, maar ek wil eerder nie uitvind nie. Sy geniet haar werk hééltemal te veel.

***

Vertel ons: Ollie is verlig sy ID is veilig. Hoekom is dit so belangrik om ’n ID te hê, selfs al is jy dakloos?