Dag ses in die hospitaal. Ek word vandag ontslaan. ’n Deel van my voel verlig, terwyl ’n klein deel wens ek kan vir ewig hier bly.

“Môre, bhut Ollie. Gereed om te gaan?”

Kitty se stem laat my skrik en ek draai om. Ek het haar gesmeek om op te hou om my “meneer Olivier” te noem, want dit laat my soos ’n outoppie voel. Sy weier egter om my gewoon Ollie te noem.

“Hoekom is jy … wat maak jy …”?

Sy was my enigste besoeker gewees; sy’t elke dag vir my boeke en kos gebring.

“Hoe het jy geweet dat  ek vandag ontslaan word?”

Daar’s ’n opgewonde kyk in haar oë. “Ek het jou situasie vir die hoofverpleegster verduidelik en sy het belowe om my te laat weet wanneer hulle jou uitskop.”

Dit verduidelik die verandering in suster Twala se houding. Sy kon my nie in die oë kyk nie en ’n paar keer het sy vrugte en sjokolade in my bedkassie gesit wanneer sy gedink het ek slaap. Sy’s nie op diens vandag nie. Ek sal terugkom en kom dankie sê.

“Kom ons waai.” Kitty haak haar arm by myne in. “Ek het iets om jou te vertel.”

“Jy gaan trou? Kan ek die blommemeisie wees?”

Kitty lag en slaan my arm. “Hayi suka, wena, jy laat my lelik lag. Maar wanneer ek trou, gaan jy die MGG wees.”

“MGG? Bedoel jy MC?”

“Nee, ek bedoel My Gunsteling-Gas. Kom ons gaan nou. Ek kan nie wag om jou die goeie nuus te vertel nie.”

“Hoekom sê jy my nie nou dadelik nie?”

Sy trek aan my arm, die ontslagvorm in haar hand. “Geduld, meneer Olivier. Goeie dinge kom na dié wat wag.”

By die uitgang stop Kitty my. “Wag hier terwyl ek die kar gaan haal.”

Toe ek in die kar klim, kan ek nie help om te vra nie, “Van wanneer af bestuur jy? Jou ma het jou altyd na die hospitaal gebring om my te besoek.”

“Vandat ek ’n paar dae gelede my lisensie gekry het.”

“So, dis jou goeie nuus? Geluk!”

“Dankie, bhuti Ollie, maar nee, dis ou nuus. Die goeie nuus is baie beter.”

Sy maneuver die motor uit die parkeerarea uit tot in die hoofstraat. By die vierrigtingstopstraat draai sy regs.

“Jy ry in die verkeerde rigting. Die winkelsentrum is na die anderkant toe.”

“Ek ry in die regte rigting. Umonde.”

Toe ons by die skuiling aankom, is Kitty reeds besig om uit die motor te klim terwyl ek nog my sitplekgordel losmaak. “Kom nou, bhut Ollie, maak gou.” Sy huppel na die gebou se deur toe ek uit die motor klim.

Binne gaan sit sy in een van die besoekers se stoele en wys na haar stoel agter die toonbank. “Jy sit daar.”

Sy glimlag van oor tot oor.

“Gemaklik?”

“Vir seker.” Ek leun terug in die hoërugstoel.

Kitty en ek het baie ure by haar toonbank oor ons lewens gepraat. Sy weet alles oor my miserabele ervarings.

Ek weet sy is ’n enigste kind met ’n groot, uitgebreide familie wat van Kaapstad tot in Nieu-Zeeland woon, en dat sy regte studeer. Ek weet dat haar ouers in die voorstede bly en besigheidsmense is. Ek weet hulle het genoeg geld om gemaklik te lewe, maar dat hulle ook glo in harde werk en dat hulle nie hul dogter wil bederf nie. Dis hoekom hulle haar aangemoedig het om by die skuiling te werk. Ek weet ook dat hulle die skuiling begin het om terug te gee aan die gemeenskap.

“Dink jy jy sou daar kon sit en, jy weet, doen wat ek doen?”

“Nee, ek sou nie kon nie.”

Sy lyk verslae. “Ek … jy …”

“Ek sou nooit so mooi soos jy lyk nie, Kitty. Nie eens in hoë hakke en ’n romp nie.”

“Hayi suka!” haar lyf wieg vorentoe en agtertoe soos sy lag. “Om hier te werk en te studeer is te veel vir my. Ek gaan binnekort weg, en ek het jou aanbeveel vir my pos. Jy het later ’n onderhoud, met my ma.”

***

Vertel ons: Wat dink jy daarvan dat Kitty se welgestelde familie haar in die skuiling laat werk?