“Demmit!”

Van agter haar eenvoudige dennehout-lessenaar staar Khetiwe grootoog na my.

“Ek’s te laat, nè?”

Sy skud haar kop en laat haar oë sak. “Ek het probeer, meneer Olivier, maar hulle wou nie na my luister nie. Die ry was so lank. Ek het bly sê jy sál kom – jy kom áltyd.”

“Ag, no worries, eerste by die meul maal eerste. Moenie bekommerd wees nie, die nag is nog ’n goggatjie. Ek sal na die casino gaan en maak of ek dobbel – dis heelnag oop en ek het genoeg sente vir ’n bietjie kos.”

Khetiwe hanteer almal met respek; nie omdat dit haar werk is nie, maar omdat sy vir mense omgee – diere ook. Ek het haar Kitty begin noem ná ek gesien het hoe sy ’n rondloperkat op straat kos gee. Dit het skuiling gesoek, nes ek. Ek kry haar egter nie so ver om my Ollie te noem nie. Dis altyd “meneer Olivier”. Dis al so van my eerste nag in die skuiling. Dit help nie dat my 23-jarige gesig ná die laaste vier jaar se lewe op straat deur die son en wind verniel is nie.

“Welkom by Umthunzi Wokuphumla, meneer,” het sy my gegroet.

Voor ek my R10 vir ’n bed kon oorhandig, het ’n sekuriteitswag met ’n kwaai gesig voor my ingetree. “Dra jy?”

“Dra?” ek vat aan my rugsak. “Net dit.”

“Dwelms, ou. Messe, gewere … enige wapens?”

Ek het my kop geskud, maar hy het my in elk geval deursoek. “Jy kan nie inkom as jy iets dra en dit nie oorhandig nie.”

Ek het al ’n miljoen keer verby die pakstoor geloop en nooit besef dis ’n skuiling tot ek ’n koper by die winkelsentrum daaroor hoor praat het nie.

Khetiwe het geglimlag toe ek haar die betekenis van die skuiling se naam vra. “Dit beteken ‘’n plek van skadu of rus’; ’n plek waar mense kan ontvlug van die hardheid van die strate. Dis waarom ons geen dwelms of wapens toelaat nie.”

Ek het daarvan gehou.

“Jy’s die eerste persoon wat my vra wat dit beteken. Hoekom leer ek jou nie ’n bietjie Xhosa nie, dan help jy my om my Afrikaans te verbeter?” sê sy en gee my ’n maak-my-vrek, killer-glimlag.

Van toe af is sy my gunstelingpersoon.

“Hierso, Kitty, my meisie.” Ek stoot twee klonte in plastiek toegedraai oor haar lessenaar. “Iets om jou aand lekker te maak.”

“Hawu, enkosi, meneer Olivier. Sjokolade-éclairs – my gunsteling!”

“Ek weet, jy’t my gesê. Sien jou môre.”

“Geniet jou aand, meneer Olivier. Moet asseblief nie weer laat wees nie.”

“Ndiyabulela, Kitty. Moenie te hard werk nie, hoor.” Sy studeer deeltyds, maar werk twee nagte ’n week by die skuiling, en soms naweke ook. Sy wil ’n bietjie sakgeld verdien, plus sy sê sy wil ’n verskil maak deur dakloses te help.

Ek mag dalk dakloos wees, maar ek hou myself netjies: daar’s tandepasta, tandeborsel en aanroldeoderant in my rugsak gepak, saam met ’n paar stukkies klere en ’n naelknipper. Plus my kosbaarste besittings: my ID-boek, en die hardebandboek wat ’n gereelde koper by die winkelsentrum vir my gegee het, toe sy my sien skryf op stukkies papier. Dankie tog my hare lyk okei as ek dit met my vingers kam.

By die winkelsentrum waar ek as ’n karwag werk, behandel die kopers my minder agterdogtig as ek aanbied om hul sakke vir hulle te dra, maar daar is steeds ’n paar wat my met afsku aankyk. Dit maak seer. Een of twee gee my dan eerder iets om te eet. “Ek glo nie daarin om slegte gewoontes aan te moedig nie, maar almal moet eet.” Hulle woorde is soos sout in ’n wond, maar ek verstaan.

Dis ongeveer 6-uur nm. toe ek die skuiling verlaat, maar op ’n wintersnag in die Kaap is die son reeds onder, en die wind sny deur my dun jas toe ek na die casino toe begin loop. Dit sal my 30 minute se vinnige stap kos om daar uit te kom.

***

Vertel ons: Hoekom dink jy is meneer Olivier dakloos?