Kago het wakker geword en dit was donker. Sy kop het gepyn. Hy het rondgekyk maar kon baie min sien. Hy was in ’n tipe gebou, binne-in ’n hok. Hy kon honde hoor blaf maar kon hulle nie sien nie.

Al wat hy onthou het was dat hy na Paws R Us gegaan het en daar met die man gepraat het. Die man het gesê hy moet sit en ontspan. Hy het vir hom ’n glas sap gegee. Daarna kon hy niks meer onthou nie.

Net toe het die deur oopgegaan en lig het in die donker, muwwe kamer ingestroom. Hy kon nou sien dat daar baie honde in klein hokke saam met hom in die kamer was. Kago het stil gelê, asof hy nog steeds bewusteloos was, en het sorgvuldig gekyk. Die groot man met wie hy gepraat het was besig om rond te gaan by elke hok en die honde in te spuit. Sekondes na die inspuitings, het die honde meer aggressief geraak en die hokke van hulle bure begin byt en vir hulle grom.

Die man het vir ’n paar minute na hulle gekyk. “Dis reg,” het hy gesê. “Kry julleself reg vir die gevegte vanaand.”

* * * * *

Spokes het by ’n groot huis aan die verste kant van die dorp opgedaag. Hy het aan die deur geklop. “Wat doen jy hier? Ek het gedink jy sou by die pakhuis wees,” het die Paws R Us man gevra.

“Nee, ek het vir Zero daar gelos. Hy behartig die weddenskappe. Hulle het vir my gesê jy het hulp nodig. Dat jy ’n probleem het.”

Die man het vir Spokes ’n geweer aangegee. “Hierso. Maak ’n plan met hom – hy’s in die motorhuis. Een of ander goeddoener. Dink hy weet als. Pylon het ’n gat agter gegrawe. Gooi hom daarin en begrawe hom. Ek is besig om die honde te laai. Hulle het alreeds die steroïde en verdowingsinspuitings gekry. Hulle is reg om te gaan. Dit gaan ’n goeie nag wees. Ek sal jou by die pakhuis kry.”

Spokes het die geweer geneem en na die agterkant van die huis gegaan toe hy die vragmotor hoor wegtrek. Hy het die motorhuis oopgesluit en die lig aangesit. Al die hokke was leeg, behalwe een.

“Staan op!” het Spokes beveel. “Jy is so ’n dommerik. Wat het jy gedink?”

Kago het uit die hok geklim. “Ek? Wat het jy gedink? Ek sou nie hier gewees het as dit nie vir jou was nie.” Toe het Kago die geweer in Spokes se hand gesien en stil geword.

“Dink jy ek gaan jou skiet neef?” het Spokes gevra, terwyl hy vir Kago op die rug tik. “Laat ons hier wegkom. Hierdie ouens speel nie rond nie. Hier is groot geld betrokke en hulle hou nie daarvan dat mense daarmee mors nie.”

’n Taxi was buite die huis geparkeer. Voordat hy ingeklim het het Spokes eers ’n oproep op sy sel gemaak. “Luister, julle ouens moet na die verlate pakhuis by die punt van Motsetse straat gaan. Dinge gaan daar aan. Nou!” Hy het die foon afgesit en in die taxi geklim.

“Wie het jy gebel?” het Kago gevra.

“Die polisie, wie anders?” het Spokes gesê toe die taxi wegtrek.

“En wat van jou inkomste?”

“Ek het gehoop jy sou vir my help om ’n werk by jou plek te kry. Dit begin alles te gevaarlik vir my raak. Dit was amper. Ek moet ’n paar dinge uitstryk. En, ek sien julle het oulike dames wat daar werk,” het Spokes geterg, en toe het hy skielik ernstig geraak. “Jojo is die een wat jou lewe gered het, man.”

Kago het na hom gekyk. “Jojo?” Hy het geglimlag by die gedagte aan haar. “Ek sal probeer om vir jou ’n werk daar te kry, maar jy moet belowe – hou jou hande af van Jojo.”

“Natuurlik man, wat dink jy is ek? In elk geval lyk sy soos ’n eenman-vrou as jy my vra.”

Die taxi het hulle terug huis toe geneem en Kago het aan die werk die volgende dag gedink; dat hy Jojo sou sien. Hy het vir homself gesê die lewe is kort, amper té kort. Môre sal hy haar uitvra op ’n regte afspraak. Môre was definitief die dag.

* * *

Vertel ons wat dink jy: Het jou opinie oor Spokes nou verander?