“Jy’s laat. Jou aandete sal koud word, ” sê Kago se ma. Sy vryf vir Tiger op sy kop. “So waar het jy hom gekry?”

“Hy was by ’n sekere honde reddingsplek aan die ander kant van die dorp. Ek wonder hoe het hy daar gekom?”

“Wie weet? Honde loop rond. Ten minste is hy nou by die huis. Al maak hierdie hond so ’n gemors, moet ek erken dat ek hom ook gemis het.” Sy gooi melk in Tiger se bak.

“Ma, weet Ma enigiets oor wat Spokes by sy werk doen?”

“Nee. Ek weet hy doen iets by ’n groot pakhuis; dié een wat eers die inmaakfabriek was in Motsetse straat.”

* * * * *

Dit was koud en Kago het sy baadjie stywer om sy nek getrek. Hy het ’n paar blokke gestap en toe oorgesluip na Motsetse straat. Al die straatligte was stukkend. Dit was ’n rowwe deel van die stad. Daar was min huise, en die meeste geboue was net die doppe van ou fabrieke, nou verlate. Die pakhuis waarna hy gesoek het was heel aan die punt, weg van alles af. Hy kon ligte binne sien brand. Kago het gewonder wat se tipe vervaardiging snags sou plaasvind.

Toe hy naby die pakhuis kom, sien hy mense wat saamdrom om iemand wat by ’n tafel sit. Hulle was besig om geld na die man te stoot. Dit was Spokes.

“Oukei, wag bietjie! Julle sal almal julle weddenskappe inkry, moenie bekommerd wees nie, het Spokes gesê, en probeer om die skare te kalmeer.

Kago het die kappie aan sy baadjie opgetrek sodat Spokes hom nie kon sien nie, verby die tafel gekruip en by die deur van die pakhuis ingegaan. Binne-in het hy baie mense gekry. In die middel was ’n afgehokte gebied met ’n put wat in die sementvloer gegrawe is. Kago het na die verste kant van die hok gegaan. Wat was hier aan die gang?

Na ’n paar minute het Spokes in die gebou ingekom. “Weddenskappe is gesluit!” het hy geroep.

’n Enorme man met ’n reuse maag het op die klein verhogie gespring. “Oukei my vriende,” het hy gesê. “Ons het vanaand vyf rondtes. Maak julleself gereed om geld te maak. Ons eerste deelnemer is die kampioenvegter – Brutus!”

Die skare het gebrul. Uit ’n ander deur het ’n man gekom wat ’n groot swart hond gelei het. Dit het gegrom en aan die leiband getrek. Die man het ’n deur na die hok toe oopgemaak en ingegaan met die hond.

Die persoon op die verhoog het aangekondig: “En die deelnemer, Tau!” Vanaf ’n ander deur het ’n gryserige hond verskyn met ’n man wat probeer het om die wilde dier te lei. Hy het ook in die hok ingegaan.

Die man op die verhoog het gesê, “Laat die wedstryd begin! Tot die dood toe!”

Die twee mans het hulle honde se leibande afgehaal en vinnig die hok verlaat, terwyl hulle die deure agter hulle gesluit het. Die honde het mekaar onmiddellik aangeval. Die skare het gebrul en geskreeu. Die swart hond het stukke vleis uit die gryse gepluk. Die put het stadig rooi geword van die bloed. Die grys hond het geval en die swarte het aangeval om dood te maak. Hy het die hond se nek gehou totdat dit ophou beweeg het. Die skare het gejuig.

Kago het siek gevoel.

Die geveg was oor en Spokes het na die tafel gegaan om die wenweddenskappe uit te betaal. Die hondegevegte was alles oor weddery. Mense het geld gemaak uit die vegtende honde.

Die wenhond het in die hok gebly terwyl die dooie een uitgedra is. ’n Ander hond is by die swart hond ingestoot. Dit het gegrom en sy tande gekners. Dit was kort en sterk en bruin. Skielik het Kago besef hy ken die hond. Dit was die hond wat in die hok was saam met Tiger, die een wat sy oor gelek het! Wat het hulle gedoen om dit so aggressief te maak?

Dit mag sterk en wreed gelyk het, maar dit was geen maat vir Brutus nie. Binne sekondes het hy die oor van die kleiner hond afgeskeur. Hy het nie tyd gemors nie en het gou die kleiner bruin hond op die grond gehad, sy nek stewig in sy tande vas. Die bruin hond het stil gelê. Die skare het gejuig terwyl die groter hond die lewe uit die kleiner een gedruk het.

Kago kon niks meer verduur nie en het deur die skare gedruk, op pad na die deur. By die deur het hy teruggekyk – en Spokes het reguit na hom gestaar.

* * *

Vertel ons wat dink jy: Wat is jou opinie oor wat Spokes besig is om te doen? Wat behoort Kago te doen?