Nou gaan ons ’n reusesprong in tyd maak. Ons arriveer in 2014. Ek is in Graad 11. Dis Maandag, tweede periode.
Die Geskiedenis-onderwyser, mnr. Oelofse, is laat. Die klas gaan tekere soos altyd wanneer ’n onderwyser nie in die rondte is nie. Soos ’n klomp barbare.
Ek sien Carmen met swaaiende heupe na my toe aangestap kom. Carmen Hofmeyr is die gemeenste, hoogmoedigste meisie in ons klas. Moontlik die gemeenste meisie in Suid-Afrika. Sy is deel van die groep wat só graag modelle of sangers wil wees. Hulle is meer gegoede kinders − meisies wat om die een of ander rede cool is, al kan ek glad nie sien wat cool is aan hulle nie.
Almal dink Carmen is mooi, maar sy’s nie vir my mooi nie. Haar sonbruin vel kom uit ’n botteltjie en sy het verskriklike reguit blonde hare. Sy dra te veel lipomlyner. En sy neem omtrent ’n honderd selfies per minuut. En almal “hou daarvan” en stuur boodskappe soos: “Jy lyk fantasties!” G’n wonder sy dink sy’s Tyra Banks nie. Siestog.
“Haai,” sê sy, en begin in ’n verveelde stem praat terwyl sy ’n kaartjie op my bank neersit. “My voorligtingsonderwyser sê ek moet jou na my partytjie toe nooi. Moenie vra hoekom nie. In elk geval, hier’s die uitnodiging.”
Ek is so uit die veld geslaan omdat sy so onbeskof is dat ek net na haar staar.
Dis lank stil, en dan voeg sy byna as ’n nagedagte by: “Ons gaan soos sprokieskarakters aantrek. Die tema is ‘sprokies’. En ek is Aspoestertjie. My adres is op die agterkant.”
Ek is laas na ’n partytjie genooi toe ek op laerskool was.