“Nee, Johnny, jy’s dronk,” sê Tessa. “Laat David vir ons terugry. Hy’s nog reg.” 

Johnny se oë is lomerig en hy gaan sit op sy hurke op die sypaadjie, sit die twee biere langs hom neer. 

Ek gaan buk laag met my hand op Johnny se skouer. “Is jy oraait?” Ek voel self nie so goed nie. Dis wat shots doen, maar Johnny is duidelik slegter af.

 Hy druk sy regterduim teen sy bors. “Laat ek die Golfie ry.” 

Ek skud my kop. “Jy’s te dronk,” sê ek.

 Die girls kom staan by ons.

“Julle twee,” sê Tessa. “Dis laat. Al die winkels en plekke is toe. Hier gaan nou ’n klomp gangsters begin dwaal. Ons moet liewer ry.”

Ek kyk rond. Die laaste mense wat in die club was loop weg in groepies. ’n Paar klim in ’n Uber. Op die straathoek langs die garage staan ’n groep en stry. Ek steek ’n Rothmans op en trek vir Johnny aan die arm op. “Kom, ons moet waai.”

“Ek voel nie lekker nie,” sê hy toe hy regop is en trek sy gesig soos iemand wat iets bitter geproe het en hou sy maag vas. Hy skuifel na die Golfie se linkeragterwiel en toe spoel die inhoud en slym uit sy oop mond uit. Die suur reuk styg uit die mengsel op. Hel! Ruik dit dan nou soos dooie groente en vrugte. 

“Sies man!” Tessa hou haar neus toe.

Vanessa gaan vryf Johnny se rug. Ná ’n rukkie kom Johnny orent, vee sy mond af en tel die biere op. Sy fight is uit, hy loop na die Golf se agterdeur.

Ek klim aan die bestuurkant in en die enjin dreun toe ek die sleutel draai. Tessa klim voor langs my in. Vanessa skuif agter langs Johnny in.

“Ek voel nou baie beter,” sê Johnny en vryf oor sy maag. “Al daai gasse is uit my lyf uit.”

Ek kyk na hom in die spieëltjie. Hy haal sy phone uit en Nikki Minaj begin oor die speakers sing. Hy byt een bierbottel se doppie af, sluk diep agter my ore. 

Ek skud my kop en maak ’n U-draai in Voortrekkerweg. 

“Vat ’n sluk David,” sê Johnny agter my. Ek voel die yskoue bierbottel se nattigheid teen my wang. 

“Ek gaan nou ’n sluk vat,” sê ek.

“Sluk!” 

“Ek gaan nou drink.” 

“Het jy ore Johnny?” vra Tessa. “David is besig om te ry.” Sy draai die ruit aan haar kant liggies af en ’n ligte wind vul die kar. 

Ek hoor duidelik die slukke agter my terwyl ek links draai in Robert Sobukwe-straat. Die straatligte is regaf aan tot by die Tienie Meyer-brug. Skuins oorkant by die kruising, staan bergies rondom ’n knetterende vuur. ’n Tamheid oorval my. Die dag vat te veel van my. Die braai vanmiddag, die op-en-af-ryery vir drinkgoed, die skoonmaak na die braaiery, Club Seven, die shots, biere en dansery. My kooi wag.

Die robots voor word rooi. Ek hou nie daarvan om so laat by verkeersligte stil te hou nie; dis net ’n klipgooi van ’n klomp boewe af wat stry oor ’n sak wyn. Wil net nie weer by ’n rooi lig bo-op die brug stop nie. Een van die boewe skuins oorkant stry met ’n vrou voor ’n oop hokdeur. Hoe kry hulle dit reg om so op die straat te lewe? Hoe borsel hulle soggens tande? Ek moet dankie sê, ek het ’n ma en pa en ’n dak oor my kop.

“Vat ’n sluk!” Dis Johnny.

Die verkeerslig is groen en ek trek weg.

“Gee die bier, laat ek ’n bietjie sluk,” sê Vanessa. Sy was heeltyd stil, want sy het skuins teen die ruit gelê. 

Ek kyk in die truspieëltjie hoe Johnny die bierbottel teen haar mond druk. Vanessa ruk haar mond weg en hy begin lag. “Jy’s vervelig!” 

Sy vee haar lippe af. “Kan jy nie kan slaap of iets nie, Johnny? Jy pla onnodig almal in die kar.”

Dis toe ek die koue vloeistof teen my nek af voel vloei. Ek ruk weg en kyk oor my skouer. Toe gebeur alles vinnig. Tessa skree my naam. Ek kyk pad toe, sien ’n figuur in die donker en hoor glas breek onder die Golfie se wiele. Ek trap brieke en die kar kom skreeuend tot stilstand. Tessa trek haar asem in terwyl haar hande gryp vir haar gesig. 

Nikki Minaj sing nog, maar ons almal sit doodstil. Vanessa en Johnny kyk met groot oë by die voorruit uit.

“Het ek iemand gestamp?” vra ek senuweeagtig.

 “Oe jirre!” fluister Tessa.

“Wat nou julle?” vra Vanessa, wawyd wakker.

My hart klop kliphard in my borskas. “Het ek iemand gestamp, Tessa?” 

Sy antwoord nie. Sy antwoord nie en ek ry met ’n draai ’n entjie vorentoe, ingeval iemand in die pad lê.

“Jy kan nie wegry nie, David,” sê Tessa, “miskien lewe die man!”

Ek stop die kar meters verder, nog steeds op die brug. “Het ek iemand gestamp? Jy sê dan niks!”

“Julle twee stry … Daar was ’n man daar … of ’n vrou. Ek weet nie, maar iemand was daar. Wat gaan ons maak julle?” vra Vanessa van agteraf. 

My nerves is stukkend. Ek’s die ou wat agter die wiel sit. Ons is almal dronk in die Golfie. Ek sit die karligte en musiek af.

Voor by die T-aansluiting kom ’n wit Opel van Bellville-Suid af in ons rigting aangery. Almal in die Golfie is doodstil. Hou asem op. Die Opel se reggae kom met die wind nader en hy ry langs ons verby. In die agterste venster hou iemand ’n selfoon op.

Ek blaas asem uit. “Daai Opel het nou gesien hoe ons lyk,” sê ek. “Ek gaan tronk toe. Ons moet ry!” Ek draai die karsleutel.

“Is jy mal?” vra Vanessa en kyk na Tessa. “Miskien lewe die man. Ons kan nie die man netso los nie. Dis verkeerd!”

“Wie sê dit was ’n man?” vra Johnny. “Maklik het David ’n hond omgery. Klomp honde dwaal hier rond.” Die kardeur gaan oop agter. “Ek gaan nou kyk,” sê Johnny.

“Wag!” skree ons almal met een stem, maar Johnny draf terug met die bierbottel in sy hand.

“David, laat hom terugkom,” sê Tessa. “Wat maak hy nou?” 

Ek voel skielik doodnugter. Die meisies lyk geworry, maar ek’s vrek bang. Ek klim uit die kar en gaan staan by die oop kardeur. Die wind sny skerp. Die oggendure is besig om uit te loop. Die son gaan nou kop uit steek. Die girls vra net vrae in die kar, maar ek probeer kyk wat Johnny doen.

Hy gaan versigtig nader en sak af op een knie langs die sypaadjie. Onder die straatlig lê ’n donker bondel.

Vertel ons: Wat moet David-hulle doen?