Weer kry al die diere kos, behalwe Vlieg. “Zoem! Zoem! Zoei! Wat van my? Gaan ek ook iets te ete kry?” kla Vlieg.

Koei lag en vat ’n hap van haar appel. “Hoor julle iets?” vra Koei vir die ander diere aan die tafel. “Ek hoor niks.”

Sommer gou is al die bakke aan die tafel dolleeg geëet. Die diere is trommeldik geëet. Almal behalwe Vlieg. Haar maag grom van die honger.

Ná ete is dit tyd om te dans en fees te vier. Maar Vlieg is te kwaad. Sy besluit om huis toe te gaan.

Die koningin sien vir Vlieg. “En nou, Vlieg?” vra sy. “Waarom is jy op pad huis toe? Is my feesmaal dan nie lekker nie?”Vlieg buig laag voor die koningin. “Jammer, U Hoogheid,” sê sy. “Ek is seker die kos was baie lekker. Maar ek het nie ’n krieseltjie daarvan geproe nie.”

Toe vertel sy vir die koningin wat gebeur het. Die koningin is baie kwaad toe sy hoor wat Koei gedoen het.

“Van nou af mag jy en jou maats elke dag vir Koei lastig val,” sê die koningin. “Van soggens tot saans mag julle om haar ore zoem. Dit sal haar ’n les leer. Sy sal nooit weer maak of sy jou nie raaksien nie. En sy sal sien dat selfs die kleinste gogga vir my belangrik is.”

En dit is presies wat Vlieg tot vandag toe doen. Sy en haar maats vlieg van soggens tot saans om Koei se ore rond.

En terwyl hulle dit doen, sing hulle: “Zoem! Zoem! Zoei! Nooit ooit weer nie!

Nooit weer sal jy ons ignoreer nie!”