“My storie het hom beter laat voel,” vertel Sisanda vir haar oupa toe sy by die huis kom.
Die meeste middae, en oor naweke, gaan kuier Sisanda vir die kameelperdjie. En elke keer wanneer sy gaan, neem sy nog ’n storie saam om vir hom te lees. Die twee nuwe vriende lyk so goed saam dat selfs toeriste wat verbystap foto’s van hulle neem.
Stadigaan word die kameelperdjie sterker. Mense by die wildreservaat sorg regtig goed vir hom en al die liefde van sy nuwe maat, Sisanda, doen wondere.
Op ’n dag vra die bestuurder van die reservaat vir Sisanda om vir haar nuwe maat ’n naam te gee.
“Ek dink Thokozani is ’n goeie naam,” sê Sisanda.
Die volgende dag bel die bestuurder van die reservaat Sisanda se onderwyser. Hy nooi al Sisanda se klasmaats om vir Thokozani te kom ontmoet. Die mooi kameelperdjie het in die drie maande vandat Sisanda die eerste keer vir hom kom kuier het, langer en sterker geword.
Die dag van die uitstappie wag veertig Graad 3-kinders gretig vir die reservaat se hekke om oop te maak. Toe lei ‘n baie trotse Sisanda almal na Thokozani. Sommige van die kinders staar verstom na die lang kameelperd. Ander giggel senuweeagtig. Hulle onderwyser, juffrou Khanyile, glimlag net.