Sisanda is nogal lank vir haar ouderdom − sy aard na haar pa. Haar ronde gesig en pragtige glimlag kry sy van haar ma. Albei haar ouers staan elke oggend vroeg op om by die wildreservaat daar naby te gaan werk. Teen die tyd dat Sisanda en haar maats in die skool is, kom busse vol toeriste al by die reservaat aan om na Afrika se mooiste diere te kom kyk.
Sisanda se vorige verjaardag was baie spesiaal – haar ouers het toestemming gekry om vir haar ’n partytjie in die wildereservaat te hou. Die kameelperde in die reservaat was nuuskierig oor hierdie groep mense. Hulle het hul lang nekke uitgestrek om die partytjie beter te kan sien, en dit het selfs gelyk asof hulle van die verjaardagkoek wil hê! Sisanda hou baie van die kameelperde. Al die diere is vir haar spesiaal, maar dit is die stil en sagmoedige kameelperde wat haar hart gesteel het. Sy sou die hele dag lank na hulle kon kyk.