“Ag, nee! Kyk,” sê Alex, “die klein blou blommetjie het opgekrul en sy gesiggie toegevou.”

“Ja,” sê Mamma. “Veldblomme hou daarvan om na die son toe te draai, en hulle hou daarvan om in die grond te staan.”

“O,” sê Alex.

“Waarom teken jy nie vir Pappa ’n prent vir sy verjaardag nie?” sê Mamma.

“Goeie idee,” glimlag Alex. Hy gaan haal sy kryte en papier en teken vir Pappa ’n prent. Hy teken ’n huis met ’n rooi dak. Toe teken hy ’n groot groen boom langs die huis. Hy teken ook ’n tuinpaadjie al die pad van die voordeur tot by die rand van die bladsy, en hy teken blou blommetjies al langs die paadjie. Hy teken die blou lug aan die bokant van die bladsy en ook ’n groot geel son. Toe teken hy groen gras onderaan die bladsy. Laaste teken hy vir Pappa, Mamma en homself wat op die gras staan.

Toe kom Pappa huis toe van die werk af.

“Gelukkige verjaardag, Pappa,” sê Alex en gee vir hom sy geskenke. Eers gee hy vir Pappa die dennepitte. “Ek hou so baie van dennepitte,” sê Pappa.

Toe gee hy vir Pappa die gladde bruin klip. “Wat ’n spesiale klip!” sê Pappa. “Ek sal dit in my broeksak sit om geluk te bring!”

Toe gee hy vir Pappa die tekening. “O!” sê Pappa. “Dit is ons huis en ons boom en hier is ons! Jy, Mamma en ek. En ek hou regtig van die blou blommetjies langs die tuinpaadjie.”

“Daardie blou blommetjies is net so blou soos die lug,” sê Alex.

“Dankie vir al my geskenke, Alex,” sê Pappa, en hy gee vir Alex ’n stywe drukkie. “Ek dink ons moet blou veldblommetjies plant,” sê Pappa. “Ons sal hulle al langs ons tuinpaadjie plant, net soos die blommetjies in jou prent.”

“Blink plan!” sê Alex. “Ek sal jou help om hulle te plant, Pappa!”

Na aandete steek Mamma die kersies op Pappa se verjaardagkoek aan. Pappa blaas hulle almal met een groot woesj! dood. Alex en Mamma sing vir Pappa “Veels geluk, liewe Pappa”.

“Ek hou daarvan om vir jou geskenke te soek, Pappa,” sê Alex met ’n breë glimlag.