En Zimkhitha hou op lag en sweef vyftig meter ondertoe. Maar sy kyk na die groot verkeersknoop en die TV-span en die duisende mense wat na haar kyk, en sy begin weer lag. En daar sweef sy weer op in die lug.
Die gawe vrou skud haar kop. “Ons gaan iets onaangenamer moet sê,” sê sy ferm. “Die wind kan haar nou enige oomblik skep en dan sal sy vir altyd wegsweef. Wat is die ergste ding waaraan julle kan dink wat ons vir haar kan sê?”
Hulle sit almal koppe bymekaar en dink en dink en dink en dink. Uiteindelik het hulle dit.
“Almal saam,” roep Zimkhitha se pa, wat op die dak van ’n Mercedes Benz staan. “Almal skree so hard julle kan, almal tegelyk.”
En toe skree die skare van vier duisend mense, en die geel hond, en die swart kat, en die man wat piesangs verkoop almal saam: “HAAI ZIMKHITHA! ONS KAN JOU BROEKIE SIEN, EN DAAR IS ’N GAATJIE DAARIN!”
En Zimkhitha hou op lag.
Sy kom afgesweef. Af, af, af. Nog verder af, en af, en af, tot sy uiteindelik byna op die grond is.
“My dierbare klein dogtertjie!” huil haar ma, gryp haar bene vas en trek haar terug tot op die grond. “Dankie tog jy is veilig!”
Zimkhitha kyk na die skare mense wat almal juig en lag en hande klap. Sy is so verleë dat sy haar gesig met haar hande bedek en begin huis toe hardloop.
“Ai, tog,” sê haar pa. “Ons het haar gevoelens seergemaak. Sy is baie ontsteld.”
En die mense sit toe weer koppe bymekaar en dink aan die regte ding om te sê om haar op te beur.
“Almal saam,” roep haar ma.
En hulle skree: “HAAI, ZIMKHITHA! DIT WAS NET ’N GRAPPIE!”
Zimkhitha gaan staan stil.
“ONS BELOWE JOU!” skree hulle almal saam. “ONS KON NIE REGTIG JOU BROEKIE SIEN NIE, WANT JY HET DAN ’N PIENK LANGBROEK AAN!”
En toe begin Zimkhitha lag.
“Oeps, gryp haar gou!” skree haar ma.
En hulle doen dit. Net betyds.