Daar was eenmaal ’n meisie met die naam Zimkhitha wat nooit ophou lag het nie. Sy het haar pa gek gemaak. Op ’n dag gaan haal hy haar by die skool. Toe hy aan die punt van hulle straat kom, het hy genoeg gehad! Hy hou stil.

“Gaan jy ophou lag of gaan jy verder huis toe stap?” vra hy. Maar Zimkhitha lag net harder.

“Reg,” sê hy, “jy kan huis toe stap.” Hy laat haar uit die motor klim en hy ry huis toe.

“Waar’s Zimkhitha?” vra haar ma toe haar pa by die voordeur instap. “Ek kook haar gunstelingkos.”

“O, toggie,” sê haar pa. “Ek het haar laat huis toe stap van die hoek af omdat sy nie wou ophou lag nie.”

“My dierbare klein dogtertjie?” huil Zimkhitha se ma. “Jy het my dierbare dogtertjie laat huis toe stap? Heeltemal alleen? Ons moet haar gaan soek.” Hulle soek en soek, maar daar is geen teken van Zimkhitha nie.

“Waar het jy haar afgelaai?” vra haar ma. “Waar is sy, Ron?”

“Ai, tog,” mompel Zimkhitha se pa, en kyk onder elke bos en in elke boom.

“Zimkhitha!” roep haar ma. “Zimkhitha, waar is jy?”

’n Vrou in ’n motor hou stil. “Kan ek julle help?” vra sy.

“Ons het ons dogtertjie verloor,” sê Zimkhitha se ma. “Het jy haar dalk gesien?”

Die vrou ry om die blok, kom terug en sê: “Ek het ’n swart kat en ’n geel hond gesien, en ’n man wat piesangs verkoop. Maar ek het nêrens ’n dogtertjie gesien nie.”

Zimkhitha se pa kyk op, en daar sweef Zimkhitha hoog, hoog bo hulle in die lug, soos ’n groot pienk ballon.