“Opstaantyd! Kersvader is hier!”

My pa se vrolike stem dring geleidelik deur die slaapnewels.

Ek sit regop in my bed. Dis al skemer. Dankbaar besef ek dat die kopseer en die bewerige gevoel op my maag verdwyn het.

“Is als oukei, meisiekind?” vra my pa. Hy kom sit langs my op die bed. “Jy weet jy kan enige tyd vir my of Ma sê as iets verkeerd is, nè?”

Ek knik en die trane prik skielik agter my ooglede. “Ek’s oukei. Regtig.”

Hy gee my ‘n stywe druk.

“Kom ons gaan maak geskenke oop. Ek is juis so nuuskierig om te sien wat in daardie pakkie is wat ek netnou op die stoep voor die deur gekry het …”

Ek frons. “Watse pakkie?”

Hy sit ‘n vierkantige pakkie in my hand. Dis toegedraai met bruin papier met ‘n skulpiespatroon daarop. My naam is met koki bo-op die kaartjie geskryf.

“Ons gaan in die sitkamer geskenke uitdeel,” sê my pa. “Maar jy kan hierdie ene maar alleen hier in jou kamer oopmaak as jy wil …” Hy knipoog vir my en stap uit.

Ek maak die koevert met bewende hande oop.

—–

Liewe Vicki

Volgens die woordeboek is ‘n mockingbird ‘n piet-my-vrou of ‘n spotvoël. Ek het nie ‘n clue watse voëltjie hierdie is nie. Maar hopelik herinner dit jou altyd aan hierdie vakansie.

Geseënde Kersfees en lekker verjaar.

xxx

—–

Binne-in die pakkie is ‘n silwer hangertjie in die vorm van ‘n vlieënde voëltjie.