“Jeez, ouens,” sê Kevin toe hy hom op die stoep neerplak langs ons ander Graad 10-seuns.

“Het julle gesien hoe bult Nita vandag weer uit haar skoolrok? Flip, ek kon nie ophou kyk toe ek netnou in haar vasloop nie.”

“Jy het seker aspris in haar vasgeloop,” lag Vince.

“Weer en weer en weer,” spot nog ‘n ou.

“En wat is fout daarmee?” vra Kevin. Hy vat so voor aan sy broek. Nou lag die ouens eers. Kevin draai na my toe. “Brent, sê tog vir hulle daar is niks fout daarmee.”

Ek gee ‘n verleë lag. “Moenie my nou by jou ding … eh … dinge insleep nie!”

“Vertel hom, Brent,” sê Vince. Hy lag so dat sy groot maag ruk.

Kevin trek sy gesig. “Ag, julle is almal papbroeke.”

Ek skud my kop. “Oukei dan. Nita is sexy. Sexy verby, eintlik. Ek sal ook in haar wil vasloop. Dalk ‘n bietjie vat …”

Kevin kry ‘n breë glimlag. “Dis nou hoe ‘n man moet praat!” sê hy en klap my op die skouer.

Ek grinnik. “‘n Regte man, ja!”

WAT DINK JY: Praat alle ouens so van meisies?