Teen die einde van die eerste week, gebeur nog ‘n wonderwerk. Dit lyk of my ma en pa die vakansie begin geniet.

Soggens slaap Ma later, en sy staan nie meer elke oggend douvoordag gereed om vir ons almal ‘n reusagtige ontbyt te maak nie.

My pa gaan koop vir hom ‘n splinternuwe visstok. Ek en Melissa is stomverbaas om te hoor hy het jare gelede visgevang vir ‘n stokperdjie. My pa? ‘n Stokperdjie?!

“So, vertel ‘n bietjie – wat presies is tussen jou en die outjie langsaan aan die gang?” vra Melissa die Donderdagmiddag toe ek en sy op die stoep sit en vrugtesap drink.

Ek voel hoe ek bloos.

“Niks nie,” sê ek.

“Yeah, right. Julle is die afgelope week onafskeidbaar. Soos Laurel en Hardy. Romeo en Juliet. Bella en Edward.”

Ek gee ‘n verleë laggie.

Sy’s reg.

Die afgelope paar dae was amazing.

Ek en Pierre was omtrent elke dag van vroegoggend tot saans laat in mekaar se geselskap.

As dit reën, het ons Scrabble in die huis gespeel.

As die son skyn, het ons in die see gebaljaar. Hy het my selfs geleer surf.

Gisteraand het hy my genooi om saam met sy pa-hulle te braai. Snaaks genoeg was ek glad nie skaam nie. Ek het sy ma gehelp om slaai te maak. En ek het my doodgelag vir al sy pa se lawwigheid.

“Het my kleinsussie ‘n vakansieromanse?” vra Melissa ondeund.

Ek dink aan gisteraand toe Pierre saam met my huis toe gestap het. Die wind het liggies gewaai en ‘n mens kon die branders hoor ruis soos die asemhaling van iemand wat rustig slaap. Hy het my voor die hekkie gesoen. Sy mond was warm en sy asem het na pepermente geruik.

“Ek dink so …” sê ek met ‘n krieweling wat soos koeldrankborrels deur my maag kielie.

‘n Paar minute later daag Pierre op vir ons roomys-afspraak. Kuiltjies keep in sy bruingebrande wange toe hy vir my glimlag. Voor die hekkie huiwer hy ‘n oomblik.

Dan vat hy my hand.

My hart doen vreemde dinge.