My naam is Agnes Molope. Ek is sewentien jaar oud. Ek hou van lees, diere, reëndae, om na Generations te kyk, en van geroosterde kaastoebroodjies.
Ek is ook ’n albino.
Hierdie storie gaan nie oor hoe dit is om ’n albino te wees nie, maar dit speel wel ’n rol daarin. Dit is die storie van my vel, die vel waarin ek leef. Dit is my storie. Dit is die storie van hoe ek lyk, en watter invloed dit op my lewe het.
Maar my vel is nie ek nie. Ek is ek. My vel is net … vel.
Maar voor ek my storie begin, wil ek jou gou ’n blitskursus oor albino’s gee.
Albino’s is mense wie se vel geen kleur het nie. Dit is omdat hulle vel nie melanien vervaardig nie, wat die goed is wat jou vel bruin, pienk, geel en sjokoladekleur maak. Ons is dus superwit en moet uit die son bly. Jy wil nie ’n albino met sonbrand sien nie. Glo my. Dis nie oulik nie.
Ons oë is ook uiters sensitief vir lig. Ek dra nogal baie my sonbril, soms selfs binne, as my oë seer is. Dit laat my soos die skoolvampier lyk, maar ek kan nie help nie.
By die skool het ek ’n hele versameling byname: Sneeubal, Jik, Glimwurm, Spook en natuurlik, Whitey. Voordat ek skool toe is, het ek altyd net by Ma by die huis gebly. Sy het my nooit anders behandel nie. Sy het gesê ek is ’n sneeuvlokkie wat God laat val het.
Ek het al baie mal dinge gehoor wat mense van albino’s glo. Dat ons superkragte het, iets kan doodmaak deur net daarna te kyk, vervloek is, of dat seks met ’n albino siektes kan genees. Glo my as ek vir jou sê – niks hiervan is waar nie.
In elk geval, hierdie storie gaan nie oor hoe dit is om ’n albino te wees nie. Die storie gaan oor my. Daar’s meer aan elke mens as wat jy sien. Ek wens almal in die wêreld kan dit net besef. Dalk, nadat hulle my storie gelees het, sal een of twee mense dit wel besef. Dit sal wonderlik wees.
Ek is in Hoërskool Rosemont, wat in Hoopstraat in ’n taamlik gegoede buurt op in die straat is. Ek skat die skool is oukei. Ek het niks om dit mee te vergelyk nie, want ek was nog nie in ’n ander skool nie. Die pype is effens geroes en soms moet jy wag tot die water skoon uitloop wanneer jy ’n kraan oopdraai, maar buiten dit skat ek dis nie te sleg nie.
Dis nie die skool self waarmee ek ’n probleem het nie. Dis die leerders wat soontoe gaan. Daar is blykbaar 540 leerders in ons skool en ek kan met sekerheid sê dat ongeveer negentig persent van hulle absoluut aaklig is.