Al wat verander het, is hoeveel stadiger ek genoeg geld maak om die skuiling te betaal. My klere moet gewas word, maar dit reën nou al vier dae en die verlammende pyn maak my soveel stadiger, dat dit ’n wonderwerk is as ek R10 maak.

Ek sluk die pynpille op ’n leë maag en die antibiotika saam met my enigste ete per dag by die skuiling.

Kitty is soos ’n moeder hen wat my dophou en seker maak ek eet en drink my pille. Sy het amper oor haar toonbank gespring toe ek in die skuiling in strompel ná die aand wat ek in die treinstasie geslaap het.

“Meneer Olivier! Jy’s hier. Waar was jy? Hoe gaan dit? Is jy okei?” vra sy.

Ek glimlag skeef vir haar en beduie sy kan ontspan. “Molo, Kitty. Unjani? Het jy my gemis?”

“Hawu, meneer Olivier, ek was bekommerd oor jou.” Die frons tussen haar oë verdiep. “Waar was jy? Hayi, dis nie mooi van jou om my so te laat worrie nie.”

Ek sluk die trane wat in my oë brand; sy gee soveel om. “Alles is okei, Kitty.” Ek hou my duime in die lug.

Sy’t glo my nie. Haar oë vernou en sy vou haar arms oor haar bors. “H’m-’m, waar was jy dan? Buite in die koue. Het jy enigsins geëet? Jy lyk …” Sy soek in haar handsak en gee vir my ’n kosblik. “Eet. Asseblief. Eet dit alles.”

Ek laat nie op my wag nie, nie terwyl sy my deurdringend aankyk en my maag grom van plesier nie. “Net as jy saam met my eet.” Ek maak die houer oop en hou dit na haar uit.

“Kulungile. Ek sal een eet.”

Daar was vier dik volgraan-toebroodjies met grondboontjiebotter en konfyt. O liewe Here, wat Kitty se sondes ook al is, vergewe hulle almal en laat al haar wense waar word, hoe klein ook al.

* * * * *

Oor twee dae moet ek terug hospitaal toe gaan om die krammetjies te laat uithaal. Die pyn het nie minder geword soos die verpleegster en dokter belowe het nie – dis erger – en ek het nie meer pynpille nie. Ek kan nie my pligte as karwag los om te rus nie. Ek rus meer, gaan sit sommer enige plek, my arms lam langs my sye, die steekwond kloppend. Ten minste het dit opgehou reën.

In die nag in die skuiling is ek rusteloos en rol rond van die pyn; die sweet tap teen my slape af. My lyf ruk van die bewerasies, maak nie saak hoe diep ek onder die komberse inkruip en probeer slaap nie. Ek het klaar ’n tweede paar kouse aangetrek.

Toe Kitty kom nagsê, ruk my lyf. “Meneer Olivier, ek–” Sy val op haar knieë neer en sit haar koel hand teen my voorkop. “Jy’s vuurwarm.”

“Ek is o … k … kei.”

“Nee, jy is nie. Ek gaan ’n ambulans bel.”

Terwyl ons vir die ambulans wag, vee Kitty my voorkop met ’n koel lap af en gee my slukkies water. “Asseblief, ek dink jy moet probeer wakker bly. Dis wat hulle altyd in die movies sê, meneer Olivier. Maak oop jou oë.”

Ten spyte van haar aanmoediging, verloor ek my bewussyn.

* * * * *

“Ndiyacela Nkosi, sorg asseblief vir bhut Ollie. Ek sal minder éclairs eet en meer oefen, maar kyk tog dat hy niks oorkom nie,” Khetiwe snuif.

Nou ja, dêm, dat ek in die hospitaal moes beland om haar te kry om my Ollie te noem. Sy weet nie ek kan haar hoor nie, want my oë wil nie oopgaan nie, al is ek wakker.

Sy druk my hand. “Asseblief, God, bhut Ollie is die broer wat ek nooit gehad het nie, en hy is ’n goeie mens.”

“Laat hom rus, umntwana wam, sy lyf het dit nodig. Jy het die regte ding gedoen om die ambulans te ontbied. Jy kan môre weer kom kuier.” Die verpleegster se stem is sag en besorg, nes Ma s’n die keer toe ek griep gehad het.

***

Vertel ons: Is jy al ooit in die hospitaal opgeneem? Hoe was die verpleegsters? Gaaf, kwaai of iets tussen-in?