Menseregtedag, 31 Maart, 2000

Leonard Gregory sit langs die sokkerveld by die Bhongweni Stadion in Kokstad. Leonard is ‘n Griekwa, afkomstig uit die Oos Griekwaland gebied in KwaZulu- Natal. Hy kyk na die wedstryd tussen Bush Bucks van Mthatha en ‘n uitnodigingsspan met spelers van spanne uit die Kokstad omgewing. ‘n Groot skare het gekom om die wedstryd, wat deel van die Menseregtedag-vieringe is, te kom aanskou.

Na hierdie wedstryd is die hoofwedstryd – die Dangerous Dinosaurs van Durban teen Vukuzenzele van Bizana. Hierdie is ‘n sokkerwedstryd van ‘n ander aard! Dié is kruksokker! Hierdie spelers het almal liggaamlike gestremdhede en speel op krukke. Die skare is verbaas en stomgeslaan dat mense op krukke sokker kan speel. Hierdie spelers gebruik hulle krukke soos ‘n ekstra paar bene en het wonderlike sokkervaardighede. Die skare het nog nooit so iets beleef nie. Hulle fluit en skreeu om die spelers aan te moedig.

Leonard Gregory is die persoon wat die geleentheid gereël het. Wanneer Leonard na die bewegende spelers kyk en hoor hoe die skare hulle aanmoedig, kan hy net met genoegdoening glimlag. Sy plan het gewerk. Nou weet hy dat die gemeenskap sal aanvaar dat gestremde mense dinge vir hulself kan doen. Hulle is nie nutteloos en hulpeloos nie. Hulle kan ‘n groot bydrae in die lewe van die gemeenskap lewer, nes Leonard Gregory.

Leonard Gregory is gestremd. Hy gebruik ‘n rolstoel. Wanneer hy loop, gebruik hy krukke soos die spelers op die veld, maar hy is nie met ‘n gestremdheid gebore nie.

In hierdie storie sal jy meer van Leonard uitvind, sy lewe, sy geloof en sy werk met gestremde mense in sy gemeenskap in Kokstad.

Dangerous dinosaurs

Dangerous Dinosaurs Sokkerklub van Durban.