Dit is mos nou een van die oulikste goed om vlakvarke te sien hardloop! Hulle het sulke penreguit stertjies met die kwassie op die einde. Dit lyk amper soos klein kwassie waarmee mense prentjies kan verf! As hulle hardloop dan staan die stertjies penorent in die lug!

 

Nou ja .. net langs die groot doringboom het die vlakvark familie vir hulle ‘n huis gemaak. So lekker groot gat! Daar het pappa, mamma en al die klein varkies gebly. Die een klein varkie se naam was Valie.  

 

Valie het baie boeties en sussie gehad. Twaalf boeties en sussies! Vlakvarkies is almal baie lief daarvoor om in die grond rond te dolf om te soek na lekker sappige plant worteltjies. As daar nie na kossies gesoek word nie dan word daar gespeel!

 

Die grootste pret is om mekaar te jaag of om wegkruipertjie te speel. Wanneer die klein varkies so met mekaar speel dan is dit sommer een, twee, drie en die stertjies staan tog te oulik op in die lug.

 

Maar Valie … ag siestog hy het ‘n yslike probleem gehad. Sy stertjie wou niks weet daarvan om soos die ander varkies se stertjies reguit in die lug staan nie.

Vallie is moedeloos en vra vir boeties en sussies wat dink hulle kan hy doen om sy stertjie ook in die lug te laat opstaan.

 

Sussie varkie sê “Valie as jy hardloop moet jy baie klein treetjies gee, dalk sal dit jou stertjie laat opstaan” .  

Klein Valie hardloop vinning en gee net sulke klein treetjies. Maar, ag nee ……. Die stertjie bly plat!

Boetie varkie sê “Valie, probeer om jou boudtjies styf te span en teen mekaar te knyp as jy hardloop dalk sal dit help!”

 

Valie hardloop so knyp, knyp! Ag nee dit wil ook nie help.

“Valie, Valie” roep sy ander sussie “Ek dink jy moet jou rug so hol maak as jy hardloop! Dalk sal jou help met jou stertjie!”

 

Valie maak sy ruggie hol en draf so entjie weg. Neeeeeee, dit help ook niks nie.

 

Hy het alles probeer om ook sy stertjie in die lug te kry maar sy stertjie bly net so slap afhang op sy boudtjies!

 

Vader Son hang daarbo in die lug en bekyk die mannewales van die vlakvarkies so uit die hoogte. Hy sien hoe Valie sukkel om sy stertjie opgelig te kry. Vader Son kry maar vir Valie baie jammer maar hy weet eintlik wat die probleem is. Ai, dink Vader Son, ek sal maar vir Valie help.

 

“Valie, Valie” roep vader son hom.

 

Valie hoor vir Vader Son roep maar hy maak of hy niks hoor nie! Hy speel nou te lekker saam met sy boeties en sussie!

 

“Vaaaaaaaaalie” roep Vader Son hom weer.

 Uiteindelik luister Valie na hom en gaan staan voor Vader Son. “Vader Son soek jy my?”

 

“Ja Valie ek sien hoe jy met jou stertjie sukkel. Dalk kan ek vir jou bietjie raad gee wat jy kan probeer.

Jy weet Valie, ek het jou al baie dopgehou! Jy is nie ‘n baie gehoorsame varkie nie. Ek sien baie dinge hier van bo-af. Ek het gesien as jou mamma of pappa met jou praat dan luister jy nie vir hulle nie!

Dalk is dit omdat jy so ongehoorsaam is dat jou stertjie nie wil saam werk nie.

Hoekom probeer jy nie ‘n slag om gehoorsaam te wees nie en kyk dan wat gebeur?”

 

Valie luister mooi en aandagtig na wat vader son sê. Hy dink so by homself ….ja dit is so …  hy luister maar min vir sy ouers. Hy praat altyd terug of ignoreer hulle en maak of hy nie hoor nie. Dit is net soos Vader Son sê … hy wil altyd eerder aanhou speel of dit doen waarmee hy besig is dan maak of hy nie hoor nie!

 

Valie gaan lê uitgestrek onder boom om ‘n lekker slapie te vang.]

 

“Valie … Valie” hoor hy sy ma na hom roep. “Valie kom tog gou hier.”

 

Nou gewoonlik sou Valie gemaak het of hy haar nie hoor nie en net bly lê het. Maar nie hierdie keer nie. Hy onthou duidelik die woorde wat Vader Son vir hom gesê het!

Hy hardloop vinning na sy ma toe om te hoor wat sy wil sê.

 

Kan julle raai wat gebeur met Valie toe hy so vinnig na sy ma toe hardloop?

 

Hy het nog nie eers 10 tree gehardloop nie toe staan sy stertjie stokstyf in die lug!

Valie is so gelukkig hy spring in die lug en skree “Ek kom Mamma ek is nou daar! Ek kom!”

 

Van daardie dag af het Valie altyd geluister as sy ouers met hom praat en het hy nooit weer gesukkel om ook ‘n reguit stywe stertjie in die lug te kry nie.