Die afrigter
Die ongeluk in 1991 het Leonard se sokkerloopbaan op die ouderdom van 31 beëindig. Na sestien jaar van eersteklas sokker, was Leonard gestremd.
Hy het gebid, “Liewe God, gee my die moed om die werklikheid waarin jy my geplaas het, in die gesig te staar.” Na die gebed het Leonard nuwe moed gekry. Hy het besluit om na sokker terug te keer, maar in ‘n ander rol.
“Ek sal nie weer kan speel nie,” het hy vir homself gesê, “maar ek het nog my sig en ek kan dink. Ek sal ‘n afrigter word. Ek sal ‘n nuwe span stig en ek is seker ek sal ‘n sukses daarvan kan maak.”
Sonder om tyd te verspil het Leonard ‘n groepie seuns in sy plaaslike omgewing bymekaar gebring en hulle begin afrig. Hy het ‘n span, Young Swallows, gestig om as voederspan vir Kokstad Swallows te dien. Hy het gedink dat Young Swallows vorm aan Kokstad Swallows sou gee en ook die toekoms daarvan sou verseker.
Leonard se jarelange ervaring as sokkerspeler was baie handig en hy het besef dat hy afrigting geniet het. Hy was baie na aan sy spelers. Al hoe meer jong seuns het by die span aangesluit en gou het Leonard nog jonger spelers afgerig.
Young Swallows was goed vir die seuns in Leonard se gemeenskap. Dit het hulle sokkervaardighede, spangees en deursettingsvermoë geleer. Dit het hulle iets positiefs gegee om te doen, en het hulle weggehou van bendebedrywighede en misdaad. Baie van Leonard se spelers het al op provinsiale vlak gespeel en sommige het sukses as professionele spelers behaal.
Alhoewel Leonard dit vreeslik geniet het om Young Swallows af te rig, het hy besef dat sokker slegs een van die baie dinge was wat hy moes doen. As ‘n persoon met ‘n gestremd, het hy geroep gevoel om met ander mense met gestremdhede te werk.