“Baby, waa’s jy?! Wat maak jy soe lank? Kô lê by jou ma ek miss jou.” Na my pa se dood het my ma net in haa kooi beginne lê. Sy’t dik komberse voo haa vensters gehang soedat niks lug in ka kommie. Haa kame is al vol muf, swat vlekke orals. It vesprei en raak elke dag al ergere. Ek sweerie swat muf op haa ceiling groei innie shape van ’n skull. My ma gannie mee ytie hys ytie, sy ga net toilet toe en trug bed toe. Sy’t eventually ’n heup problem gekry van heeltyd net lê. Sy bly complain vannie pyn en loep nou met ’n limp, maa sy weier om hospitaal toe te gan ommit yt te check.

Ek maak haa kame deu oep en hou my asem op. Sy roek entjies hie binne ennie reuk slat my asem weg. Die kame is bedompag.

“Ja, Mummy? Ek is biesag.”

“Oh, wil jy nie met jou ma lê nie? Okay trap op my hart!”

Sy likes my guilt trip.

Ek haal my watesak van my rug af en klim langs haa innie kooi in. Sy strek haa arm yt vi my om in daarin te lê. Sy’t haa signature reuk. Soe sweet en sour. Soes roll-on wat oo ou swiet gesmee is, of soes ’n mys wat vi ’n paa dae in ’n kombhyskassie dood lê. My kop rus langs haa ribbe, ek kan ’n high-pitched flyt in haa longe hoo wanne sy asem ytblaas. Ek het haa al gesoebat om te ophou roek, boeke byrie library vi haa gan ythaal oo how to quit smoking, maa sy willie die entjies opgie nie.

Sy druk vinnag ie knoppies oppie remote control, “Hie’s niks oppie TV nie.” Dai’s haa mantra dai. Haa TV bly an, dag en nag. Sy ignore real-life; wanne sy die TV an switch, switch sy haaself af en fokus al haa gedagtes oppie valse wêrelde agterie skerm.

“En nou? Dai’s mos hie by ôs is ittie? Dai’s River View!” sê my ma soes sy my kop af van haa skouer skut en probee om ’n bietjie hoëre innie kooi te sit. Ek hou op eye-contact maak mettie skull oppie plafon en kykie screen an. Die lug vannie skerm maak haa entjie roek sigbaa innie donke kame, it lyk soes donneweewolke wat vinnag orals oorie kame vesprei.

Deurie roek sien ek Kurt Tapas staan by ’n podium met ’n klom microphones voo hom. Hy is een vannie rykste mense innie hele wêreld.

“Nee Mummy, dai’s Kurt Tapas, lol, wat sal hy innie skiem wil doen? Hy bly nou in Amerika.”
Tapas is ’n Tech Billionaire wat oospronklik van Suid-Afrika is.

My ma hou haa vinge oppie Volume Up knoppie, “Heh, ek wiet ek gannie ytie, maa ek ken darem ôsse entrance, die’s hie by ôs die.”

Tapas praat in ’n monotone stem, klink nes ’n robot. “I do not want to be a detached billionaire with no link to my roots. When I was a child, my nanny came from this community and so to honour her, I will take care of this place as she did for me. In fact, I will be moving in to River View and living with the people myself.”

Sê vi ôs: Dink jy Tapas sal goed wies virrie gemeenskap? Hoekô/ Hoekô nie?