Die brug het geskud toe die trein onderdeur ry. Nandi het diep asemgehaal. Stadig het sy aanhou loop tot sy van die brug af was. Haar vingers het weer die opgevoude stukkie papier in haar sak gekry, en sy het dit tussen twee vingers gevryf.

Aan die voet van die brug het sy links afgedraai na haar huis toe. Die roete sou haar lei deur die nou straatjies van nabygeleë huisies in ’n groot boogsirkel, totdat sy uiteindelik by die huis sou kom wat sy met haar ma gedeel het. Dit was ’n een slaapkamer houthut met ’n turkoois deur. Dit was net soos ’n honderd ander soortgelyke plekke rondom dit.

Die stap vanaf die stasie was lank. Vandag het Nandi in haar spore vasgesteek en rondom haar gekyk. Daar was ’n kortpad, maar dit was een wat sy nooit geneem het nie. Maar vandag het sy so uitgeput gevoel. Sy was verbaas dat sy nog een voet voor die ander een kon sit. Die kortpad was ’n paadjie wat deur bosse en bome gekronkel het. Dit was ’ n eensame pad, wat nooit deur vrouens geloop word as hulle alleen is nie. Nandi het soontoe gedraai.

Miskien is vandag die dag wat ek sal doodgaan, het sy gedink, en as ek dit dan nie self kan doen nie, sal iemand anders dit dalk maar vir my doen. Niemand sal my mis nie.

Nandi het op die pad begin loop.

Ek is in elk geval nikswerd , het sy gedink en haar vingers gesluit om die nota in haar sak. Vir ’n oomblik het sy dit amper uitgetrek en weggegooi.

Onder ’n klomp bome voor haar kon Nandi ’n groep mans bymekaar sien. Sy het geweet dat die pad waarop sy was reg langs hulle sou verbygaan. Sy het aangeloop. Die mans het in ’n bondel gesit, en Nandi kon die gloed van ’n pyp in hulle hande sien terwyl hulle dit vir mekaar rondgestuur het.

Nandi het aangeloop. Een van die mans het weggekyk van die groep en haar gesien. Hy het na die ander gedraai en een vir een het hulle almal omgedraai en gekyk hoe sy stadig naderkom. Nandi het aangeloop. Die mans het stil gestaan en na haar gekyk. Een van hulle het skielik iets vir haar geroep. Nandi kon nie uitmaak wat dit was nie, en sy het nie omgegee nie.

Sy het haar hande diep in haar sakke gesteek, haar kop laat sak en aanhou loop na hulle toe.

***

Vertel ons wat dink jy: Hoekom dink julle het Nandi die onveilige kortpad geneem? Dink julle die mans is gevaarlik?