In die klein voorkamer moet my oë eers gewoond raak aan die skemerte van die vertrek. Geen gangsters in sig nie. Êrens in die huis hoor ek musiek speel. Retro. Die huis ruik na vanilla. Alles is skoon. Op die kombuistafel staan ’n vlapoeding. Is ek in die regte huis?

“My seun issie hie nie,” sê die vrou.

“Wat’s mevrou se naam?’’ vra ek.

“Almal noem my Tinkie,’’ sê sy.

“Tinkie, julle is in groot moeilikheid.” Hoop net sy vra nie vir ’n lasbrief of ’n ding nie. Het niks papierwerk by my nie. “Os het info gekry julle smokkel drugs hie. Is dit die waaheid?” Ek staan so dat my sel haar reaksie record.

Sy soek na haar woorde, haar oë groot. “Die’s my kind se plek, Ballas s’n. Ek bly in die agterkame. Hy’s nie hie nie.” Sy kyk op haar polshorlosie. “Hy’s nou ienagge tyd byrie huis.”

“Tinkie, os gaannie wag nie,” sê ek. “Tyd staan nie stil nie. Praat met my, waas die drugs? Maak alles makliker vir jouself.”

Sy kyk skeef na my. “Hiersie drugs nie. Wat sal ek nou drugs verkoep?”

“Ek sal solank my wek doen, terwyl jy dink.” Ek deursoek die huis vertrek tot vertrek. Laaie, kaste, wegsteekplekke, onder die kooie en onder matrasse.

In die kombuis hoor ek Tinkie met iemand op ’n phone praat. “Die law is hier,” sê sy. “Ja, hulle skud nourie hele huis uit. Ek wiettie wat om te maakie, Ballas. Mak gou asseblief!”

Sy kom staan in die badkamerdeur terwyl ek in die toiletbak kyk. “Ballas is nou hie,” sê sy.

Ek probeer die handvatsel trek, maar die water spoel nie. Ek lig die tenk se kap op. Tjailatyd! My hart gaan staan stil. Geld en drugs in plastiek. Ek fluit.

“Ek gan ’n lawyer kry!” skel Tinkie agter my. Sy’s vol paniek nes ek.

“Tinkie hou op skrie. Wil jy tronk toe gan?”

Sy gooi haar palms in die lug op. “Dissie my goed nie.”

“Dis goed so,” sê ek. “Ek sal die drugs en geld vat. Julle hou julle met onwettige dinge besig.”

Haar lippe begin bewe, sy word histeries. Ek skuur verby haar na die voordeur. Ek moet hier uit, dit voel benoud.

Buite in die sonlig, hoor ek Candice iets skree. Ek loop haastig buitentoe. Bo in die straat kom Ballas en sy trawante in hulle Astra aangery. Die Astra stop meters weg en Ballas klim uit.

Ballas klim uit en praat van die kar af, maar ek hoor niks, ek hol na ons Toyota.

“Hy’t jou goed gevat Ballas!” skree Tinkie.

“Hei, wag daa,” sê Ballas.

Ek ruk die kardeur oop. “Ry, Candice, ry!”

“Hulle gan ons doodmak!” sê Candice, haar hande bewend op die stuurwiel.

“Candice, oë op die pad,” sê ek. Die hele prank is een groot gemors.

’n Hond snuffel in die pad en Candice vloek. Sy draai links om die dier, met die Astra steeds op ons hakke. ’n Ent vorentoe versper twee karre die pad.

“Wat moet ek mak?” vra Candice.

Ek wil antwoord, toe ry sy teen die sypaadjie op. My lyf ruk, my kop kap amper teen die dashboard. Sy ry die veld in en die kar kom tot stilstand.

“Klim uit!” sê ek vir haar. “Os hadloep!”

Ons hardloop vir ’n vibracrete-muur. Oor my skouer kom Ballas en sy trawante ook oor die veld aangehardloop.

Ek vat Candice se hand. “Hulle ko vir ons Candice,” sê ek uitasem. “Hadloep!”

Ek spring bo-oor ’n vibracrete en lig vir Candice oor. Ballas vloek. Ons hardloop woordeloos verby ’n groep verbaasde mense wat besig is om domino’s te speel. Ons trap deur ’n tuin en sukkel oor ’n draadheining. Ons is in die straat.

“Ons kannie stil staan nie,” sê ek.

Candice se gesig is rooi en haar oë is tranerig, maar sy knik. Ons spring oor nog ’n muur tot in iemand se jaart. Die agterdeur is oop. Ons hardloop uitasem in en sluit die deur agter ons.

“Hallo, is ieman hie? Hello!” roep ek en loop van vertrek tot vertrek. Candice hou haar bors in die kombuis vas.

‘n Vrou met ‘n kopdoek kom verbaas uit ’n slaapkamer uit en kyk na die toe agterdeur. “Wat mak julle in my hys? Wie’s julle twie?”

“Hulle wil os doodmak, antie!” sê Candice.

“Hoe bedoel jy?” vra die vrou. “Wat het julle gemak?”

Ek vertel haar kortliks alles, terwyl sy haar hand voor haar oop mond hou. Haar naam is ant Nonnie. Sy maak vir Candice suikerwater aan om te drink.

“Ons het ’n vriend wat ’n poliesman is,” sê ek. “Kan tannie hom dalk bel en vra om ons te kom help? Ek sal die gangsters besighou.”

Ant Nonnie knik en ek gee haar Deon se nomme.

Ek hoor die voetstappe en stemme in die jaart. Dis Ballas-hulle.

Daar’s ’n harde klop teen die agterdeur. “Ons wiet julle is daa binne. Mak oop die dee! Ant Nonnie, dis ek Ballas. Mak oep!”

Ant Nonnie draai om na ons toe. “Julle twee het rêrig stront aangevang. Ek bly naby die mense. Ek kan lielik seerkry. Julle moet hoep Deon mak gou.”

Candice hou haar gesig in haar hande. Dan staan sy op en gaan badkamer toe. Sy kom terug en fluister in my oor sy’t die polisie gebel. Ek knik. Die hele ding is ’n gemors. Candice stuur al haar video’s na my phone toe. “Just in case,” fluister sy. Toe sit sy haar sel se kamera aan en sit dit op die TV-kabinet, sodat dit alles afneem.

Ons hoor die gedreun van ’n voertuig voor die huis. Daar’s ’n oor en weer van stemme buite. Dis Deon.

“Mak oop die dee!” sê Deon by die voordeur.

Ant Nonnie maak die voordeur oop en Deon en Ballas en sy trawante kom ingestap.

Deon kyk kwaad na my. “Jy vang net stront aan!”

“Julle twie bastards mos met die verkeede man,” sê Ballas en wys ’n waarskuwende vinger na my en Candice. Sy hou my arm vas.

Ek wil praat, maar Deon maak ’n gebaar wat wys ek moet my mond hou. “Waas die geld ennie drugs, Lee-Roy?”

Ek gee die drugs en geld vir Deon.

“Os sort die problem vinnig uit,” sê Deon vir Ballas “Jy mak vir my happy en ek mak sieke jy’s happy. Wie smaak nou vir Pollsmoor? Wat sê jy?”

Ballas maak sy oë toe en oop. “Jy’s ‘n gatta, maa jy’s vuil.”

“Man’s gotta eat. Baat nie ek sluit vir jou toe,” sê Deon en wys ’n vinger na Ballas se trawante, “en dan vat een vannie goons oo nie.”

“Wat soek jy?” vra Ballas.

Ek en Candice luister, maar ons is vol vrees.

“Jy kan die drugs hou,’’ sê Deon. “Ek soek helfte vannie geld.’’

Ballas knik, maar hy’s nie so happy nie. Deon druk die helfte van die geld in sy broeksak. Dis toe die loeiende polisiekarre voor die oop voordeur stop. Polisiemanne kom gewapen aangehardloop. Een van hulle is ’n vrou wat met skrefiesoë na Deon gluur.

“Jissis!” Deon klap sy hand teen sy voorkop. “Natalie, dis nie wat jy dink nie.”

***

Twee weke later, terwyl ek en Candice met die trein Goodwood toe ry, kliek ons op ons Youtube-channel.

Ek en Candice het ’n waarskuwing gekry van Deon se scary partner, Natalie. As sy ons weer vang met ’n polisie-uniform, sluit sy ons op. Maar ons kon die video’s gebruik, solank ons die gangsters se gesigte blur.

Deon is aangekla oor die bribe en het sy werk verloor. Candice en ek voel bietjie sleg daaroor, maar hy’s die een wat die geld wou vat. Die hele gesprek is op Candice se foon opgeneem en die polisie kon dit as bewyse gebruik.

Ballas en sy trawante is Pollsmoor toe, sonder borg.

Candice scroll deur die comments op YouTube en lag met haar kop agteroor. Ons het duisende views, comments en nuwe subscribers gekry van ons die video met ons “gangster prank” gepost het. Ons soen mekaar en loop verder. Ons video maak YouTube mal! Ons is famous!

Vertel ons: Wat dink julle oor wat Candice en Lee-Roy gedoen het?