Ek sal nooit vergeet hoe dit was om my ma weer te sien nie –vir die eerste keer in vyf jaar! En my klein sustertjie, wat lank geword het. Hulle het by Parow treinstasie gewag toe ons van Johannesburg afgekom het.

“Die kinders het so groot geword! Claire, is jy groter as ek? Ongelooflik! Ma, jy lyk so maer!”

“Wie is hierdie aantreklike man?” het Ma gesê en goed na Louis gekyk. “Het ek jou nie voorheen gesien nie?”

“Louis. Jy het my laas in Mugunga -kamp gesien.”

“O ja, toe jy die byl kom leen het. En daar was geen byl daardie tyd nie. En hoe het jy weer my kinders ontmoet?” Ons het haar nie vertel dat ons goeie vriende was nie. Nog nie.

“Ons het die reis daardie dag saam begin. Odette het my gevra om saam met hulle te gaan. Ek het van die idee gehou,” het Louis gesê terwyl hy na my kyk met ’n wye glimlag op sy gesig.

*****

Dis sewe uur nog voor die Nuwe Jaar. My man, my ma en my kinders sal binnekort huistoe kom. Die braaihoender is amper klaar.

Ek sit regop in my bed; skud my kop om van al die herinneringe skoon te kom. Ek kyk vir oulaas na die foto’s voordat ek hulle in my handsak bêre. Ek laat ’n diep asemteug los. So baie dinge het in twintig jaar verander. Ek het nooit kon droom ek sou daardie huis in Kigali verlaat het en al dié tyd weg wees nie.

My voete voel beter. Ek gaan na die kombuis toe om seker te maak die kos is reg. Daar is die sterk reuk van seldery en lourierblare in die lug. Ek skakel die stoof af. Ek kontroleer ook die drankies in die yskas. Ek haal hulle uit die vrieshokkie om te keer dat hulle in ys verander.

Louis was veronderstel om my kinders, my ma, Claire, haar man en hulle seun halfses te bring. Hulle is laat. Maar ek ken hom. Hy is die “Afrika tyd” man. Die son stuur sy laaste strale deur die venster, naby die eetkamertafel.

Ek hoor die bure se hond blaf. “Dit moet hulle wees!” vind ek myself mompel. Hier kom hulle, al die kinders voor, besig om te raas. My twee dogters, Diane en Rosette is voor.

“Welkom almal,” sê ek terwyl ek die besoekers groet en hulle binnelei.

“Jammer ek kon jou nie help kook nie. Die kerkdiens het langer aangehou as wat ek verwag het.”

“Moenie bekommerd wees nie, Ma. Ek het reggekom,” sê ek.

My ma is een en sestig. Sy is dikwels moeg weet ek, van die lang ure wat sy as tuisversorger in Bellville werk. Ek wens ons het genoeg geld gehad sodat sy nie meer hoef te werk nie. Maar sy sê ook dat sy nie net wil rondsit nie.

Die hond blaf weer. Hierdie keer is dit Jacques, sy vrou en sy twee kinders wat aankom. Ons groet. Ek bring nog drankies voor ek ook in die sitkamer gaan sit. Die kinders maak ’n groot geraas.

“Diane, jy kan die kinders buite toe neem om te gaan legkaart bou. Onthou jy die nuwes wat julle vir Kersfees gekry het? Jy weet waar hulle is. Onthou om ook snoepgoed saam te neem.”

“Ja, Ma.” Nou begin die plek geselsvriendelik raak nadat die kinders uit is.

Louis fluister iets vir Jacques. Toe slaan Jacques op ’n bottel met ’n oopmaker om stilte te kry.

“Louis het my nou net gevra om iets te sê. Ek het nie ’n toespraak voorberei nie. Dis net ’n paar woorde wat ek wil sê. Oor ’n paar uur sal dit 2014 wees. Dit is deur God se genade dat ons nog almal asemhaal. Hy het ons deur al die beproewinge en verdrukkinge van die verlede gelei. Dis twintig jaar terug sedert ons ’n moeilike reis begin het, sonder om te weet waarheen dit ons sou lei. Terwyl ons vandag hierdie dag herdenk, kom ons hou ’n oomblik van stilte ter herinnering aan Xavier, my liewe broer, wat ’n weduwee en drie weeskinders nagelaat het…”

“Dankie,” hy vervolg: “Ons is nou hierdie klein familie, ver van die huis af. Laat ons mekaar ondersteun en saam groei. ’n Gelukkige Nuwe Jaar vir julle almal. Op ons gesondheid.” Glasies word gelig en teen mekaar geklik vir die gebeurtenis.

“Kos is gereed. Kom help julleself.” Ek het sagte musiek opgesit om ons toe te laat om aan te hou gesels terwyl ons geëet het. Ek speel Bonne Année (Gelukkige Nuwe jaar), ’n tradisionele lied deur die Impala orkes oor en oor.

Na ’n tydjie , tik ek ook aan ’n bottel. Almal word stil.

“Ons het ’n man se stem gehoor. Laat ons ’n vrou se stem hoor,” het ek geskerts.

“Jy’s reg,” het my ma gesê.

“Dankie almal wat hier is. Ek wil graag my ma bedank omdat sy sterk en wys is. Sy het my baie gehelp. Sy was my inspirasie, en selfs nou het ek ’n aankondiging om te maak vir diegene wat dit nog nie weet nie. Ek is by die Universiteit van Wes-Kaapland aanvaar om te studeer om ’n professionele verpleegster te word. Dit was my twintig-jaar-oue droom. ’n Droom kry nooit grys hare nie.”

“Jay! Geluk!” Ek geniet almal se handdruk.

“Laaste maar nie die minste nie, laat ek my man, en goeie ou vriend , Louis bedank wat al die jare vir my goed was.” Ons omhels. “Ons is saam deur dik en dun.” Ek neem sy hand en lig dit op. “Om die waarheid te sê, dankie almal dat julle ’n goeie familie is.”

“ Familie staan altyd saam, maak nie saak wat gebeur nie.” Dit is wat my Pa altyd gesê het. Terwyl ek die woorde herhaal, hoor ek sy stem altyd teenwoordig. Ons hou almal hande en lig dit in die lug op.

“Gelukkige Nuwe Jaar vir almal!” sê ek.

“Gelukkige Nuwe Jaar vir jou ook,” antwoord hulle.

***

Vertel ons: Hoe dink julle is die lewe nou verskillend vir Odette in vergelyking met as daar geen oorlog in haar land gewees het nie en sy kon daar grootword en studeer?