Dit was warm en ons het doodgegaan van die dors. Ons het vir ure op paadjies en deur bosse geloop. My voete het blase begin kry en ek moes my skoene uittrek. Ek het ook snye op my bene gehad en het begin mank loop. Louis sou agterbly en vir my wag as ek nie by hulle kon bybly nie en het my gehelp om my sak te dra.

Toe kom ons twee mans teë wat ’n stomp op hulle skouers gedra het. “Connaissez-vous la route vers la Zambie?” (Ken julle die pad na Zambië?) Het Philippe hulle gevra, in die hoop dat hulle Frans sou verstaan. Hulle het gefrons en onder mekaar gemompel. Ongelukkig het hulle ’n ander taal gepraat, onbekend vir ons.

Zambie, Zambie,” het Philippe bly herhaal, terwyl hy beduie.

“Zambie?” het een van die mans uiteindelik gevra nadat hy die woord herken het. Ons het almal geknik. Toe het hy ons ’n pad gewys om te volg. Ons het geloop en geloop.

“Ons het water nodig,” het my broer André uiteindelik gesê, hygend van die hitte. “ Ons moet drink of ons sal doodgaan van dors.”

“Ek het,” het Louis gesê terwyl hy ’n groot plastiekbottel uit sy sak haal.

“Uratubyaye,” (Jy is ’n lewensredder.) het André gesê, voordat hy raserig begin drink het. Almal het van die bottel gedrink en toe dit my beurt was en dit na my lippe oplig, het ek gevries en voor my gestaar.

“Wat is dit?” het Louis vinnig gevra.

En toe sien hulle waarvoor ek geskrik het. Vorentoe was daar ’n groep soldate met gewere. Hulle was besig om te gesels en te lag maar toe hulle ons sien kom, het hulle ernstig geraak en beduie dat ons moes stop.

Ons kon nie terugdraai nie. Ons kon nie wegkruip nie. Al wat ons kon doen was om stadig na hulle toe te loop. En hulle het gewag tot ons naby was voordat hulle begin skreeu het. Een van hulle het sy geweer opgelig en iets gesê.

Ek het angs op my broer Philippe se gesig gesien. Ek het geweet dat hy, soos ons, nie ’n woord verstaan het wat die soldaat gesê het nie. Hy het Lingala gepraat.

“Ons is bure van Rwanda,” het Philippe gestamel, en geraai dis wat die soldaat gevra het. Toe hy begin praat het, het een donker soldaat sy vingers gulsig begin saam vryf. Hulle wou omkoopgeld hê toe hulle besef dat ons vreemdelinge is.

Quarante dollars,” (veertig dollar) het die donker soldaat gesê.

André het bewys dat hy goed is met onderhandel. Met hierdie vaardigheid, het hy op ’n manier die soldate oortuig om net twintig dollar te neem, en nie veertig nie.

So gou as wat ons buite sig van die soldate was het ek van Louis se waterbottel gedrink en die seuns gedwing om na my te kyk.

“Van nou af kan ek nie praat nie,” het ek gesê. Ek het dollars in ’n plastiese sak gesit en dit in my mond gedruk.

“Wat doen jy?” het my broer André gevra.

“Ons kan nie dat hierdie diewe al ons geld vat nie, of ons sal nooit Zambië bereik nie. Elke keer voor ons ’n padblokkade bereik, sal ek my dollars in hierdie plastiese sak sit en in my mond sit. Indien een van die soldate met my praat, sê vir hulle ek is stom. Ek sal gebare in plaas van woorde gebruik.”

“ Briljante idee,” het Louis gesê. Ek was so gelukkig.

Voordat ek Mugunga-kamp verlaat het, het ek ook geld in note in ’n ander sagte stuk plastiek gesit, dit met ’n stuk lap toegemaak en dit stewig vas gestik, en toe onder my onderklere gesit. Ek het gemaak of die lap vir my periodes was, en dit so weggesteek as padblokkade soldate probeer het om ons geld te steel. Ek het geweet dat niks hulle sou stop nie.

Soos ons verder gegaan het, het ons ons gou in digte woud bevind. Dit was besig om donker te word. Die bome het bo ons uitgetroon, en alle sonlig blokkeer. Ons het geloop en geloop, terwyl ons vir slange op die grond uitgekyk het. En toe dit aand word het ons vlermuise en snaakse voëls gesien wat op ons afgeduik het. Dit was baie angswekkend.

Uiteindelik het Philippe gestop en ons vertel dat ons nêrens gekom het nie. Ons was besig om in sirkels te loop. Ons het verdwaal. Daar was geen manier wat ons ons pad uit die woud sou kry nie.

“Kom ons maak ’n vuur om die diere weg te hou,” het hy voorgestel toe ons nie verder kon loop nie.

“Ek dink dit sal veiliger wees as ons in ’n groot boom klim en die nag daar deurbring,” het ek gesê. Ons het toe in ’n groot boom geklim en die nag op sy takke deurgebring.

“Ons sal beurte moet maak om wag te hou en te slaap,” het André gesê.

Dit was nie maklik om te slaap met my liggaam uitgestrek op ’n groot tak nie. Ek kon nie myself toelaat om in ’n diep slaap te raak nie, uit vrees dat ek sou val. Die insekte het ons lewendig opgevreet in daardie boom. My voete het gepyn van die loop en die nag was lank. Ek het ook bly dink aan my ma en suster in Mugunga-kamp. Het hulle die cholera oorleef?

Van tyd tot tyd kon ek Louis se hand op my voel, om my te laat weet hy was daar, en ’n bietjie troos te gee.

“Jy is ’n goeie vriend,” het ek vir hom in die pikdonkerte gefluister.

“Ek is lief vir jou,” het hy terug gefluister. Die woorde het diep in my hart ingedring soos ’n naald in ’n stuk lap.

Die volgende oggend toe ons in ’n oopte in die bome kom het ons die geluid van mense naby gehoor, takke wat onder voete breek, die klank van stemme wat nader gekom het. En toe het ’n groep amper nakende jagters in die oopte verskyn. My hart het gespring. Ons was nie seker hoe hulle teenoor ons sou optree nie. Ons het met hulle gekommunikeer deur gebare te gebruik en gelukkig het hulle bewys dat hulle gaaf en behulpsaam was, en vir ons die spoor gewys om te volg.

’n Paar dae later het ons uitgeput, honger en dors by Uvira op Meer Tanganjika aangekom. Die gesig van hierdie massa water het vir my hoop beteken. Anderkant dit het ’n nuwe lewe gelê.

Voor die dag om was het ons reispapiere gekoop en was ons aan boord ’n groot boot na Kigoma in Tanzanië. Dit sou die kortste pad na Zambië wees, is aan ons vertel. En, terwyl ons oor die water geseil het, was die hoop aan die groei soos ons verder en verder van ons huis gereis het.

“Heer, beskerm my ouers, my suster, my ooms en nefies,” het ek in my hart gebid.

***

Vertel ons wat dink jy: Sal Zambië alles wees waaroor Odette gedroom het?