This story is available in English: A dad for Christmas.

Ek is papnat gesweet toe ek wakker skrik. Ek lê en bewe soos ’n riet in die wind. Ek steek my hand uit na my vrou. ’n Oomblik lank tas ek rond, maar sy is nie daar nie. Toe onthou ek … sy is weg … sy en die kinders. Sy kon nie meer my drinkery uitstaan nie, het sy gesê.

My mond voel of dit vol watte is en my tong kleef aan my verhemelte vas. Die bed kraak toe ek roer en die geluid weerklink deur die leë huis. O vader, dit is eensaam! Ek was nog nooit in my lewe so eensaam nie.

Jare lank drink ek al, maar ek het eers die afgelope jaar besef dat ek ’n drankprobleem het, dat ek verslaaf is aan drank. Ja, ek, die sosiale drinker wat gespog het dat ek enigeen onder die tafel kon drink, is eintlik ’n dronkaard … ’n alkoholis. Dit was ’n wrede ontnugtering vir my, en nou … en nou sit ek in ’n leë huis sonder kind of kraai.

Ek onthou nog hoe my kinders gelyk het die aand toe hulle weg is. Die twee meisies met hul jassies wat al beter dae gesien het en die seuns met hul broeke wat al lankal te kort is. Ek was onder die invloed en alles het vir my sommer piekfyn gelyk. Die ergste van alles was toe my seun sy sakdoek uithaal om die spoegstraaltjie langs my mond af te vee. Ek wens ek was dood …

Ek klim uit die bed en strompel kombuis toe. Ek is dors en lus vir ’n koppie koffie, maar daar is niks in die huis nie. Die kaste is leeg. Ek tap ’n glas water in. Die water spat oor die rand, so bewe my hande. Ek moet albei hande gebruik om die glas by my mond te kry. Ek het ’n gemors van my lewe gemaak … ek haat die drank!

Ek het die afgelope twee dae nie gewerk nie. Ek tas in my benewelde brein rond vir die datum … dis die vyfde Desember.

Die vyfde Desember? O Here! Wat van my kinders? Hulle het nie ’n kledingstuk in die huis nie. Ek moet by die werk kom.

Ek het nie geld vir die bus nie en besluit om duim te ry tot by my werk. Maar niemand wil stop nie, en ek daag laat by die werk op. Gou verklee ek en stap na my werkplek. Toe roep my voorman my.

“Pieterse! Brian Pieterse!” skreeu hy.

“Ja meneer?”

“Moenie vir my ‘ja meneer’ nie, man, waar is jou doktersertifikaat?”

“Ek het nie een nie, meneer.”

Meneer Paulse is ’n gawe ou, maar op hierdie oomblik is hy woedend.

“Twee dae weg van die werk af, dan kom jy nog laat ook! Kyk hier.” Hy maak die register oop. “Elke maand was jy omtrent vier dae afwesig, elke keer op ’n Maandag. Ek het lus en dank jou af, maar ek gaan jou ’n kans gee om jouself reg te ruk. Jy mag maar jou geld gaan haal, dan kan jy weer volgende jaar terugkom.”

“Volgende jaar? Maar, meneer …” Ek probeer verduidelik, maar hy wil niks hoor nie.

Verslae verklee ek weer en gaan haal my geld by die kantoor. Dertig rand. ’n Miserabele dertig rand. Wat maak ’n mens met dertig rand? Ek voel die warm, souterige trane oor my wange vloei.

Die hele oggend loop ek in die stad rond. Oral is daar uitverkopings en die mense loop in en uit by die winkels. Nog net twintig dae voor Kersfees! skreeu die advertensies.

Wat nou? vra ek my af, maar die antwoord ontwyk my. Ek gaan by ’n supermark in en koop ’n paar items vir die huis. Toe ek verby die kroeg stap, trek die reuk van wyn en bier my soos ’n magneet. Ek moet letterlik aan ’n paal vasklou.

O Here help! pleit ek onwillekeurig. Ek moet huis toe, ek moet, ek moet, ek moet! Ek het lus vir ’n stywe dop. Dit vreet aan my soos ’n kanker, dit voel of ek gaan mal word … Toe is ek om die draai. Ek is natgesweet en bewerig van die honger.

Die huis is in donkerte gehul … en verlate. Ek besef nou eers wat die lig in die venster vir my beteken het. Dit het ek alles prys gegee … vir drank.

Ek klim in die bed met ’n groot beker stomende koffie en ’n paar toebroodjies. Dit is koud en vir ’n lang tyd lê ek wakker. Net voordat ek aan die slaap raak onthou ek die noodgebed wat ek voor die kroeg gebid het. Wanneer laas het ek gebid? Ek kan nie eens onthou nie. Ek slaap rusteloos: ek droom van my kinders, grootoog van die honger.

Die volgende dag is ek vroeg wakker. Gister was ek heeldag sonder wyn. Dit is amper ’n wonderwerk. Ek staar na my hande. Hulle bewe nog steeds en ek voel koorsig. Vandag moet ek werk kry, enige werk.

Oral waar ek gaan kry ek dieselfde antwoord. “Kom volgende jaar.” Die hele week lank soek ek, maar daar is niks. Saans loop ek ’n wye draai om die kroeg. Wanneer ek tuis kom, prewel ek ’n dankgebed omdat ek nog ’n dag van die drank weggebly het.

Sondagoggend val ek weer vroeg in die pad. Ek is rusteloos en ek kan die verandering in my voel. Ek drentel in die middestad rond. In die verte hoor ek die kerkklok lui. My hart skreeu uit van verlange.

Dan kom ek by ’n winkel waar ’n ouerige vrou besig is om die venster te versier. Ingedagte staan ek voor die venster en hou die vrou dop. Op haar naamkaartjie staan Francis Thorne. Sy glimlag vriendelik.

Na ’n rukkie beduie sy vir my om in te kom. “Waarom lyk jy so treurig op so ’n lieflike dag?”

“Ek voel ’n bietjie neerslagtig. Kan ek help?”

“As jy wil, maar ek kan jou nie betaal nie.”

“Dis orraait.”

“Ek moet maar my eie vensters doen, ek kan nie iemand professioneel bekostig nie.”

“Jy gaan goed aan,” sê ek.

“Dink jy so?”

“Ja, al wat jy nou makeer is ’n Kersvader om die kinders te lok.”

“Kersvader? Dit klink na ’n goeie idee, maar wie?” Sy kyk na my.

“H’m … ek moet werk soek.”

“Werk jy dan nie?”

Ek vertel haar die hele storie.

“Jy sê jy het die hele week nog nie gedrink nie?”

“Nie ’n druppel drank nie.”

“Dan is jy mos nie ’n alkoholis nie. Meneer Pieterse, ek gaan ’n kans waag … ek bied jou die werk aan om Kersvader te wees. Jy begin Maandag.”

Maandag douvoordag is ek voor die winkel. Ek kan nie wag om te begin werk nie. Die eienares gee vir my ’n Kersvaderpak met ’n baard en ’n masker.

Die besigheid begin maar stadig, maar teen tienuur het ons ons hande vol. Ek hou die kinders besig in ’n groot speelkampie terwyl hul ouers inkopies doen. Ek vra die kinders wat hulle vir Kersfees wil hê, dan dra ek die inligting aan hul ouers oor wanneer hulle terugkom. Die geluid van die geld in die geldlaai klink soos musiek in ons ore. Ons plan werk.

Die aand is ek doodmoeg, maar gelukkig. Francis sit agter die toonbank, haar skoene uitgeskop.

“Meneer Pieterse, jy is vir my goud werd,” sê sy.

Daardie aand slaap ek soos ’n klip.

In die daaropvolgende dae is die speelkampie gedurig vol kinders. Die kinders laat my lag en somtyds laat hulle my huil oor die dinge wat hulle my vra. Ek is bly oor die masker.

Een middag trek iemand my aan die baadjie.

“Kersvader?”

Ek skrik my byna boeglam toe ek die stem herken. Dis my dogtertjie, Janine. My oë is vol trane toe ek haar optel. Sy voel so tengerig.

“Wat wil jy vir Kersfees hê, jong dame?”

“Ek wil graag nuwe rokke hê vir my mammie en my sussie, en ook klere en skoene vir my broers,” sê sy.

“Wat van jou, wil jy niks hê nie?” wil ek weet.

“Ja, ek wil my pappa hê!” Sy bars in trane uit. Gou is my vrou, Una, by. Una kyk reguit na my, maar sy herken my nie. Sy kyk verbaas na die Kersvader wat so skaamteloos saam met haar dogter huil.

Die mense om die speelkampie word stil toe hulle die drama aanskou. Francis sien dit ook en maak haar eie afleidings.

Toe die vrou en haar dogtertjie by die toonbank kom, vra sy die kind wat sy vir Kersvader gevra het. Sy knik haar kop bevestigend toe die dogtertjie klaar gepraat het. Una maak haar mond oop om iets te sê, maar Francis sit haar vinger voor haar lippe.

“Ek glo nog in wonderwerke,” sê sy.

Una skud haar kop, sy dink duidelik die ou vrou is van lotjie getik.

Dis eenuur in die middag, drie dae voor Kersfees, toe ek die kind oor die straat sien loop. Die kind se ma is besig om by die winkelvenster in te loer. Toe sy omkyk, is die kind reeds in die straat. Sy skreeu histeries. Dit laat die kind skrik; sy weet duidelik nie wat om te doen nie.

Sonder om te aarsel vlieg ek by die deur uit en halfpad oor die straat. Ek gryp die kind en druk haar teen my bors vas net toe die motor my tref.

Wat daarna gebeur het, weet ek nie. Toe ek bykom, lê ek in die hospitaal. Daar is ’n vreemde man langs my bed.

“Dankie Vader, jy’t bygekom!” sê hy en hou my hand styf vas. “Meneer, ek is jou baie dank verskuldig.”

“Die kind …?”

“Emma is veilig meneer, danksy jou vinnige optrede. Ek is meneer Jacobs, Emma se pa. Jy is ’n dapper man, meneer, jy verdien ’n medalje.”

“Dis sommer niks, man, jy sou dieselfde gedoen het.”

“Sou ek? Ek weet nie,” sê hy.

Die volgende aand daag Francis saam met Emma en haar ouers daar op.

“Hoe gaan dit daar by die winkel? Ek is jammer as ek jou enige ongerief veroorsaak het.”

“Jammer, ongerief? Waarvan praat jy tog? Die winkel is nou so stampvol dat ek twee meisies moes aanstel. Dis alles aan jou te danke, jou heldedaad het my winkel beroemd gemaak.”

“Ek is bly.”

Ek wil myself ontslaan, maar die dokter wil niks daarvan hoor nie. Dit is die dag voor Kersfees en ek wil graag alleen wees, alleen met my gedagtes. Ek wonder wat maak my vrou en kinders nou, ek weet nie eens waar hulle tuisgaan nie. Ek byt op my onderlip in ’n poging om die trane te keer.

Ek word eers die aand ontslaan. Dit kom vir my baie onreëlmatig voor, maar ek wil daar wegkom en vra nie nog vrae nie. Die versierings en die besoekers met presente vir hul geliefdes laat my treurig voel. Ek was darem ’n spot.

“Ag Here, wees my vrou en kinders barmhartig. Here, gee my nog net een kans,” bid ek saggies.

Buite die hospitaal wag ’n verrassing op my …

Francis, Emma en haar ouers is daar met ’n kombi.

“Dit is nie nodig nie, ek is darem nie gebreklik nie.”

“Klim in, meneer Pieterse, moet nou nie nog redekawel nie! Dit is die minste wat ons vir jou doen.”

Die rit word in stilte afgelê, elkeen besig met sy eie gedagtes. Suutjies kruip Emma se handjie in myne in … Die trane brand agter my ooglede. Dan hou ons voor die huis stil. Dit is donker en verlate. Ek staan daar voor die hekkie en wens dat hulle wil ry. Ek wil alleen wees.

“Toe nou, meneer Pieterse, gaan in, ons wil eers sien jy’s binne voordat ons ry,” sê Francis.

Stadig strompel ek na die deur toe. Ek wonder of daar nog koffie is. Ek kan nie meer onthou nie.

Toe swaai die voordeur oop en die ligte word terselfdertyd aangeskakel. Daar is baie mense in die voorkamer. Sommige herken ek as mense wat daardie dag van die ongeluk in die winkel was. Daar is ook ’n groot Kersboom met liggies wat aan en af flikker en pakkies om die boom gepak. Die tafel is vol kruideniersware.

Una en die kinders kom uit die kamer te voorskyn. Hulle is almal netjies uitgevat. Ek is spraakloos … Soos in ’n droom, hoor ek Francis sê: “Kersvader het vanjaar vroeg gekom.”

Janine gryp my hand vas. “Ek het geweet Kersvader gaan jou terugbring! Ek het hom mos gevra.”

Wat sê jy as daar ’n groot knop in jou keel is en die trane oor jou wange stroom?