Ons reël eers ’n koffieafspraak. Die koffieafspraak word gevolg deur middagete, middagete deur aandete, aandete deur ’n aand by my plek. Die aand word gevolg deur ’n naweek; ná die naweek trek ons saam in.

Die herinneringe aan ons eerste date is nog vars in my geheue. Sy wou nie hê dat ek haar moes oplaai nie. Sy het die tyd en plek gekies, gewys sy het ’n wil van haar eie. Ons het ontmoet by ’n restaurant buite die kampus – volgens haar het hulle die beste koffie en die beste uitsig oor die Indiese Oseaan. Ek het vroeg daar aangekom en die uitsig oor ’n glas water geniet terwyl ek vir haar wag.

Toe sy inkom, is dit of die vertrek tot stilstand kom. Toe sy glimlag, val ek amper flou. Ek kan nie glo sy kom na my nie. Ek staan op en trek haar stoel vir haar uit.

“’n Gentleman, sien ek,” sê sy, steeds met ’n glimlag.

“Ek probeer my bes,” sê ek beskeie. “Ek het gedink die uitsig is beautiful tot jy opgedaag het. Jy lyk amazing!”

“Dis so cheesy,” sê sy, maar sy glimlag breër en ek kan sien sy waardeer die kompliment.

“Jy is regtig mooi,” sê ek toe ons gaan sit.

Sy bestel ’n chai latte en ek vra vir ’n Americano.

“Ek hoop jy gaan goeie punte vir jou opdrag kry,” sê ek.

“Dude! Ek hoop ook so. Jy weet, uni is ’n scam. As dit my keuse was, was ek lankal klaar met die plek. Maar jy sien, ek is my pa se dogter en hy wil hê ek moet ’n graad hê wanneer ek huis toe gaan. Sodra ek dit het, het ek outomaties ’n werk,” sê sy en kyk op na my. “Ek praat te veel,” sê sy skaam.

“Nee, praat maar. Dis hoe ons mekaar leer ken. Nou weet ek ten minste as die date goed gaan, het ek ’n radio,” terg ek.

“As jy so aanhou terg kry jy dalk nié dié radio nie,” lag sy saam.

“Wat bedoel jy jy het ‘outomaties ’n werk’?”

“My familie besit Oratile Diamonds. Ek is Nomtha Zimba, dogter van Sandile Zimba,” sê sy, terwyl sy afkyk.

“O, dis great! Jy weet jy gaan ’n werk hê wanneer hierdie ‘scam’ klaar is, anders as ons medestudente wat met studieskuld en sonder werk gaan sit.”

Vertel my eerder meer oor jouself, bhut’ Luphelo,” sê sy en daar is iets in haar stemtoon wat sê sy stel regtig belang.

“Wel, daar is nie veel meer aan my as wat jy kan sien nie,” antwoord ek.

“Nou vertel my dan van dit wat ek nie kan sien nie,” sê sy en leun nader.

El leun terug, want ek is seker sy sal my hartklop hoor en agterkom hoe senuweeagtig ek is. Ons ruil stories en grappe uit. Ek vertel haar van my liefde vir gedigte en sy vertel my sy kan sing. Sy sê sy wens sy kan luister hoe ek een van my gedigte voordra.

“Ek sal ’n gedig vir jou opsê as jy vir my sal sing,” sê ek senuweeagtig en hou duime vas dat sy nie instem nie.

“Ek negotiate nie met terroriste nie,” lag sy.

“Dan het ons ’n deal. Geen singery of gedigte nie,” antwoord ek verlig.

Ons het ’n wonderlike tyd daai dag gehad. En dit was die begin van die beste jare van my lewe.

***

Vertel ons: Wat dink jy van die verhouding tussen Luphelo en Nomtha?