Ek sit hier in trane, terwyl my hart klop asof dit uit my bors wil klim. My bene is vol vrees, genoeg vrees om my van Kaapstad tot in Kairo kan dra om van hierdie oomblik weg te kom. Ek kyk hoe die liefde van my lewe, my broer se vrou, huil oor die bloed wat uit haar man se kop stroom. Sy oë is wyd oop en tranerig, asof hy om hulp vra. Hy is dood; sy dood ’n prys net so groot soos die liefde wat ek vir sy vrou het.

***

Ek was twintig jaar oud die eerste keer toe ek haar sien. Nomtha, soos sy bekend was op die kampus van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, was ’n student nes ek. Nomtha Welanga. Haar naam pas haar – sy is ’n sonstraal. Sy het helder, ronde oë wat haar onskuld en goedheid uitstraal. Sy is pragtig: kort, met ’n bruin vel en ’n Afro waaraan niemand mag vat nie.

Een Vrydag stap sy in die biblioteek in net toe ek op pad uit is. Ek kyk na haar, oorweldig deur haar skoonheid, en sy merk op ek bestudeer haar. Sy kyk op en glimlag vir my, die mooiste glimlag met pragtige wit tande. My hart mis ’n slag en ek weet daar en dan ek moet met haar praat.

Ek staan nader. “Hallo,” sê ek en my stem breek.

“Molo bhuti,” antwoord sy uitnodigend.

“Ek wil jou nie pla of weird wees nie, maar jy’s regtig mooi …”

“Laat ek raai … en jy wil my beter leer ken, bla bla bla?” val sy my in die rede.

Het ek haar verkeerd opgesom? Ek kan my skok nie wegsteek nie.

Sy lag. “Ek maak net ’n grap! NdinguNomtha.”

Ek sug verlig. “Ek is Luphelo, ek was nou amper dood. Bad joke. En jy is reg dat ek jou beter wil leer ken.”

Sy glimlag. “Ek is jammer, maar jy kan nie …” sy bly stil en kyk ernstig na my.

Ek wil in die grond sink van skaamte, want ek moes van beter geweet het. Sy is in ’n heel ander liga as ek. Net toe ek my uit die voete wil maak, begin sy giggel.

“Want ek moet eers my opdrag klaarmak, bhuti,” lag sy.

Toe gee sy my haar nommer. Ek het haar van daardie eerste gesprek liefgekry. Haar sin vir humor was amazing, al was dit ten koste van my. Ons eerste ontmoeting was soos ’n rit op ’n roller coaster. Wel, ten minste vir my.

***

Vertel ons: Het jy al ooit na iemand wat jy nie ken nie gegaan en vir hulle gesê jy hou van hulle?