Joey weet alles wat daar te wete is oor tronke.

As negentienjarige bendelid het hy met Janey, toe maar sestien jaar oud, getrou. Dit was om haar baba sy van te gee.

Janey was amper agt maande swanger toe Joey gearresteer is vir gewapende roof, borgtog geweier is en na Roelandstraat-tronk in Kaapstad gestuur is om sy verhoor af te wag. Dit was November en die tronk was tjokkenblok vol allerhande gevaarlike misdadigers. Joey was bang, maar veel meer bekommerd oor Janey, wat tuis probleme met haar familie ervaar het.

Op ’n winderige nag in Desember, hoog op vrees en spanning en met die hulp van twee ander gevangenes, het Joey ’n gat in die tronk se dak gemaak en gevlug. Twintig ander het hom gevolg. Niemand het ooit tevore uit Roelandstraat-tronk ontsnap nie.

Terwyl hy vir die gereg gevlug het, het Joey seker gemaak dat Janey op ’n veilige plek is en al haar onkostes gedek is, voordat hy vasgekeer en gearresteer is. Dit was maar twee maande voor die baba se geboorte. Hy is tot vyftien jaar gevonnis vir gewapende roof en ontsnapping uit bewaking.

Joey is van ’n onbekende tot ’n legende in die tronk se volksverhale bevorder, maar hy kon nie die rede vir die heldeverering verstaan nie. Die verskillende Nommer-bendes het almal gewedywer om Joey in hul bendes in te lyf.

Maar Joey het geweet die Nommer sal hom die res van sy lewe volg, dus het hy die aanbiedinge geweier. Hy het gekies om sy vonnis uit te dien sonder om die Nommer te aanvaar. Die Hiërargie van die 26-bende het sy versoek aanvaar – op een voorwaarde. As Joey ooit sou terugkom tronk toe nadat hy sy tyd uitgedien het, sou hy outomaties ’n lid van die 26’s word.

In bendetaal is Joey “by die hek van die 26’s begrawe” en hy het tien jaar se harde arbeid in die steengroewe van Bellville se Sentrale Gevangenis uitgedien – ’n plek waar selfs geharde misdadigers hulself seergemaak het om hul lyding te beëindig.

Nadat hy in ’n gemeenskap vol dwelms en bendes vrygelaat is, het Joey egter stilweg sy weg deur die lewe gebaan. Joey Figaro het goed vooruitgegaan, hy het sy twee dogters se universiteitgelde en sy seun se tegniese kollege-gelde betaal. Hy het geleer om konflik nie ernstig op te neem nie. Hy het sy pad gevolg met die wete dat die gemeenskap selde vergewe.

En nou dié storie … en Janey … ai, Janey … die liefde van sy lewe …

***

Vertel ons: Wat dink jy van Joey noudat jy sy geskiedenis ken?