Toe hy by die huis kom, het Janey, wat gelukkig lankal ’n spaarsleutel by die bure gelos het, hom ’n paar keer geklap, maar dit het Joey nie veel gepla nie. Hy het daarop gereken en al wat vir hom saak gemaak het, is dat sy veilig is en dat hy kan gaan slaap.

Toe spoeg Janey in sy gesig, iets waarop hy nie gereken het nie. Met spoeg op sy brilglase het hy verby haar gebeur na hul slaapkamer toe en op die bed gaan sit. Maar Janey wou dit nie toelaat nie en het hom met haar vuiste van die bed af geboender.

Joey het in sy seun se kamer gaan lê en amper dadelik aan die slaap geraak. Janey het hom egter daar ook kom teister. Hy het met haar probeer praat – toe spoeg sy ’n tweede keer in sy gesig.

Hy het haar gegryp en die vrees in haar oë gesien. Sy het geweet sy het oor die lyn getrap. Niemand spoeg in Joey se gesig en kom daarmee weg nie. Hy het haar ’n lank ruk vasgehou, toe laat hy haar gaan en loop by die deur uit.

Joey is nie bang vir die polisie of polisiestasies nie. Hy het in sy jongdae genoeg met hulle te doen gekry dat hy seker is hy sal ’n goeie nagrus onder hul beskerming kan inkry.

’n Motor stop in die stasie se werf en ’n deur word toegeklap. Oomblikke later bring ’n speurder ’n geboeide jeugdige met ’n lawaai binne. Die speurder los die seun agter die toonbank. Joey loer onder sy ooglede deur na bang seun.

“Asseblief, my pa wag vir die kar,” smeek die seun.

“Bly stil! Jy was dronk,” grom die speurder.

Die speurder, ’n knobbelrige man met ’n ruie snor, lyk gemeen.

“Kla hom nou aan vir bestuur sonder ’n lisensie!” beveel hy die konstabel agter die toonbank.

Joey besluit dadelik hy hou nie van die speurder nie. Hy kyk weer na die seun. ’n Tipiese jeugdige in gevaar.

“Asseblief,” smeek die seun.

“Hoekom laat jou hom nie maar sy roes uitslaap nie? Hy lyk vir my dronk,” tree Joey tussenbeide.

“Bly stil! Wie’t jou gevra?” spoeg die speurder in Joey se rigting, terwyl die groenoog-vrou uit die pad beweeg en in die hoek agter Joey gaan staan.

Joey laat sak sy kop gelate. Hy hoor die pen op die papier krap terwyl die konstabel die jongman aankla. Die muurklok se getik is die enigste ander geluid in die aanklagkantoor. Nou en dan hoor hy die gedreun van ’n motor wat in Spine-weg afry.

Joey sweef lomerig tussen slaap en waaksaamheid, sy ooglede swaar, toe ’n vlaag wind hom waarsku dat iemand anders die aanklagkantoor binnegekom het. Miskien twee verslaafdes, reken hy, want hy ruik die soetsuur reuk van dagga gemeng met Mandrax.

***

Vertel ons: Dink jy dit was wys van Joey om na die polisiestasie te gaan eerder as om by die huis te bly? Hoekom?