TIEN JAAR LATER

Die high heels laat haar magtig voel. Sy troon sommer bo die kinders uit. Die klok lui en sy kyk hoe die kinders by Hoërskool Clarino se hoofhek soos skape inbondel.
Teen dié tyd het sy al die trick geleer. Die graad 8-skapies moet eers voor die klas in rye staan voordat hulle mag ingaan.
Hulle doen dit so gou as moontlik, want hulle weet hulle mag koffie kry sodra hulle in die klas kom. As hulle raas, moet hulle weer buitentoe gaan en alles oordoen.
“Môre klas,” groet sy toe almal minute later langs hulle banke staan.
“Môre Juffrou,” antwoord hulle in een koor.
“Wie is reg vir ’n dag vol harde werk?” vra sy die vraag wat haar daaglikse gewoonte is.
Almal steek hulle hande op.
“Nou maar toe, julle kan ry vir ry julle koffie op die tafel langs die venster kom kry sodat ons aan die werk kan spring,” beveel sy en gaan haal solank die klas se handboeke uit die boekrak uit.
Hulle het aan die begin van die jaar ’n karwasdag in die dorp gehad om geld vir handboeke in te samel.
Terwyl die kinders ry vir ry opstaan, dink sy terug na die tyd toe sy slegs ’n paar jaar gelede in presies hierdie klas gesit het. As dit nie vir juffrou Munnik was wat haar daai dag in graad agt moed ingepraat het nie, sou sy moed opgegee het.
Darem het sy nie. Sy het harder as al die ander kinders gewerk. Gosego het haar gejoin. Hulle het tot laat in die middae by die skool gebly en geleer.
Mthabiseni het toe ’n beurs gekry om vir ’n juffrou te gaan leer en Gosego kon met haar goeie punte en beurs nursing school toe gaan.
Die kinders vra gereeld hoekom sy wat Mthabiseni is nie weg uit die dorp gegaan het nie. Sy het ook al daaroor gewonder.
Maar hoe kon sy die dorp afskud asof die mense nooit bestaan het nie? So sy het gebly om dit beter te maak.
Sy het vir ma Loago en haar boeties ’n baksteenhuis laat bou. Ma hoef nie meer huise skoon te maak nie. Sy kan bedags haar eie huis aan die kant kry en in haar groentetuin werk. In die middae help sy vir Rio en Kas met hulle huiswerk.
“Vandag skryf ons opstelle,” bepaal sy haar weer by die graad 8’s voor haar.
Die ogies blink dadelik. Hulle hou van skryf.
“Julle moet skryf oor keuses.” Sy deel foliopapiere uit.
“Juffie, is dit soos choices?” vra een in die voorste ry.
Mthabiseni lag. “Presies soos choices.”
“Mag ons kies of ons dit wil doen of nie?” waag ’n ander een.
Die klas lag.
“Nee, hier het jy geen keuse nie.”
“Maar ons het altyd ’n keuse, Juffie!” skree ’n brawe een.
Mthabiseni gaan staan stil. “Skryf dan oor hoe hierdie keuses wat jy het, jou lewe kan beïnvloed.”
Die klas spring aan die werk.
Tebogo is steeds in die buurt. Hy het die jaar na die brand baie seergekry in ’n karongeluk. Hy en een van sy buddies het sy pa se kar vir ’n spin gevat op een van daardie rowwe aande. Dit het toe nie goed geëindig nie.
“Juffie, kom help gou hier!” roep een van die kinders.
Mthabiseni stap nader. “Ek kom. Ek is mos juis hier om julle te help.”

Vertel vir ons: Sou jy soos Mthabiseni terug gegaan het na die skool van waar af sy gekom het?