Daardie selfde winter kom haal die Here vir ouma Lutha. Die fancy dokter sê sy het ’n stroke gekry terwyl sy geslaap het. Haar kop het toe ondertoe gewys en die kussing het haar laat versmoor.
Niemand het wakker geword nie, want ’n week voor Ouma se tyd het daar ’n fratsvloed gekom. Een of ander wolkbreuk wat verder noord gebeur het, het oom Len vertel.
Hulle hele huis het oorstroom. So hulle was moeg skoongemaak en uitgedroog die nag toe ouma Lutha hemel toe is.
Mammie het darem Ouma se funeral policy elke maand betaal. So ten minste kon sy ’n ordentlike funeral hê.
Mthabiseni wonder nou nog hoe hulle Ouma se groot lyf in daai klein kis gekry het. Die gemeentelede het maar swaar gedra. Hulle moes nog twee ooms kry om te help om die kis tot by die graf te dra.
Die buurt het kos aangedra en juffrou Munnik het self kom kyk of sy oukei is. Sy het vir een hele week lank Gosego met haar huiswerk gestuur.
Mthabiseni het huilend in die aand sit en huiswerk doen terwyl almal al geslaap het. Ouma sou nie wou hê sy moet haar skoolwerk afskeep nie.
Nou is dit al in die laaste week van die eksamen. Die grade maak beurte om in die klasse eksamen te skryf. Nie almal het afgebrand nie.
Die government het darem vir hulle papiere gebring. Juffrou Munnik het iewers ’n staanbord gekry waarop sy al die notas skryf. Dit help baie.
Dit is juis na so ’n lang eksamensessie wat juffrou Munnik haar agterhou.
Gosego stap solank saam met Mindy na die koskombuis. Die ou een het afgebrand, so die principal het ’n ou karavaan georganize. Werk soos ’n bom.
“Mthabiseni, wat wil jy eendag doen as jy uit die skool uit is?” vra juffrou Munnik toe dit net hulle is wat voor haar klas op die stoep staan.
Mthabiseni sluk. Sy wil antwoord dat sy enige iets wil doen behalwe huise skoonmaak, maar voel dan skuldig. Haar ma doen dit om vir hulle te sorg. Sy werk hard vir haar geld.
“Ek het nog nie so ver gedink nie, Juffrou,” jok sy.
Juffrou Munnik bly stil. Dit voel asof sy deur haar kyk.
“Jy moes tog al aan die toekoms gedink het,” bly die juffrou karring.
Trane begin uit Mthabiseni se oë loop. “Ek het Juffie, maar wat help dit tog?”
“Ek het ook hier grootgeword,” begin Juffrou vertel.
Dit kan nie waar wees nie. “Regtig Juffie?” Die trane nou vergete.
“Ja, twee strate van die skool af gebly.” Juffrou Munnik lyk vandag ekstra lank met haar high heels aan.
“Hoe het Juffie dan reggekry om ’n teacher te word?”
Juffrou Munnik lag. “Ek het hard gewerk. Die lewe skuld mens niks nie, Mthabiseni.”
Gosego en Mindy eet al, sien sy. Sy sukkel om vir juffrou Munnik in die oë te kyk. Die laaste ruk het sy gefloat. Nie aspris nie, maar sy het nie meer die use gesien nie. Tebogo het darem nie weer na die brand skool toe gekom nie, maar hy bly steeds oorkant hulle.
“Jy moet jou skouers reguit maak, jou kop oplig en werk vir wat jy wil hê,” praat Juffrou verder.
“Maar my ma sal anyway nie vir swottings kan betaal nie, Juffie. Al werk ek hoe hard. My beste kans sal wees om ook soos my antie Koekie op die druiweplaas naby Upington te gaan werk.
Juffrou Munnik staan nader. “Dis juis hoekom ek met jou wil gesels. Daar is beurse waarvoor mens kan aansoek doen, maar dan moet jou punte goed wees.”
Mthabiseni voel hoe haar skouers ligter word. “Dink Juffie ek sal dit kan doen?”
Juffrou knik. “As daar iemand is wat dit sal kan doen, is dit jy.”
Daardie middag toe Mthabiseni huis toe stap, pla die stof haar nie so baie nie. Sy sien selfs die twee mossies raak. Daar sal vir haar gesorg word, sy moet net hard werk en hoop hê.

Vertel vir ons: Wat wil jy eendag doen na skool?