Stilte. Die straat is stil. Mthobeli se ma loop aan, sonder om te praat. Die lug is warm en sy armholtes drup van die sweet. Sy gedagtes jaag. Hy volg, terwyl sy Ma voor hom loop, elke stap word vinniger soos die huis naderkom.

Bly stil. Moenie met haar praat nie. Jy weet sy sal jou nie antwoord nie. Tee sal werk. Maak vir haar tee as jy tuiskom.

Sy voete brand maar hy sal in stilte ly. Na wat die Hoof gesê het, is die laaste ding wat sy ma nou nodig het is dat hy huil, om soos ’n baba te wees. Hulle is nou nie ver van die huis af nie.

Sy swaaiende wit kierie hou aan om klippe te vind wat in die gruispad wat na sy huis lei half-versteek lê. Dis die lewe hier in Dordrecht. Toe hy Sivuyile in Kaapstad besoek het was die paaie gladder, geen gruis nie. Maar die paaie was te besig: motors en kinders orals. Die kinders het altyd gestaan en staar. Hy kon dit voel. Dordrecht is nie anders in daardie opsig nie. Hulle staar altyd. Sommige kinders in Kaapstad het selfs vir hom gesê die lang kierie laat hom soos ’n ou man lyk.

“Jy het die kierie nodig om mense te wys dat jy nie behoorlik kan sien nie, en om jou te help verstaan wat voor jou aangaan. Waarom dit by die huis los en maak asof jy kan sien soos ander mense?” Dis wat sy ma gesê het laaskeer toe hy haar probeer oortuig het om dit by die huis te los.

Die vae prente van die wêreld om hom, alles wat sy slegte oë kan sien, hou aan om sy gedagtes te oorspoel. Dan speel die woorde van die dokter wat probeer het om dinge aan sy ma te verduidelik weer terug in Mthobeli se gedagtes.

‘Dink aan ’n TV met ’n swak konneksie, wanneer die antenna nie in die regte plek is nie. Dis hoe jou seun dinge rondom hom sien. Maar moenie daaraan dink as ’n siekte nie. Dink daaraan as die liggaam wat nie alles doen wat hy veronderstel is om te doen nie, en almal om hom maak dit erger deur nie te verstaan nie.’

Mthobeli kan nog onthou dat hy op die bank buite die dokter se kantoor gesit het en hard probeer het om te maak of die effense oop deur nie saak gemaak het nie, dat hy hulle nie binne kon hoor nie, maar hy kon.

Miskien moet jy probeer om ander ouers van kinders met gestremdhede te ontmoet, en mekaar help. Daar is meer kinders as wat jy dink met gestremdhede – sommige gaan selfs onopgemerk verby.

Die son bak neer op die stowwerige straat, wat die pynlike stap terug vanaf die Hoof se kantoor erger maak. Dit het seergemaak toe hy nee gesê het.

“Geen geld. Geen spasie. Die skool kannie nog van hierdie kinders met gestremdhede inneem vir 2016 nie. Jammer.”

Dit maak nog steeds seer.

*****

Hhe, Mthobeli!” roep ’n stem agter hom. Dis van een van die huise wat hy nou net verbygegaan het op sy pad vanaf die winkel. Hy hou aan loop. Die stem is onbekend en onvriendelik, soos die blaf van ’n kwaai hond.

“Kom hier, kwedin’. Ek roep jou.”

Hy hoor die skraap van metaal gevolg deur ’n kletterende geluid. Dis ’n hek wat oopmaak en toemaak. Hulle is agter hom. Hy hoor ’n ander stem uitroep.

“Los die kind alleen, ouens. Hy het niks gedoen nie.”

Die ouens antwoord nie. Hy hoor hulle harde treë soos dit die gruispad tref. Hulle hardloop agter hom aan.

Hardloop.

Hy hardloop nie. Jy’s naby die huis. Hulle sal niks doen nie. Met sy regterhand gryp hy die lang kierie stywer vas, en met sy linkerhand die drie kerse wat hy nou net gekoop het.

Die seuns haal in. Mthobeli kyk nog steeds nie terug nie. Twee van hulle gaan by hom verby en gaan staan voor hom, blokkeer sy pad. Die derde een is langs hom. Mthobeli herken een seun: almal noem hom Abosh.

“So blindes kan selfs nou na die winkel toe gaan?” sê een seun. “Hoekom het jy nie gestop toe ek jou geroep het nie? “Wie dink jy is jy, kwedin’?”

“Selfs ons skool is vol van hulle,” sê Abosh. “Die spanne van die ander skole lag vir ons. Hulle noem ons amakrokokroko.”

Die derde hou op lag en praat. “Hhe majita, sien jy hoe kyk hy vir jou? Kan hy ons sien?”

Die tweede een waai ’n vinger van links na regs, naby aan Mthobeli se gesig. “Ya, hy kan sien. Sy snaakse oë kan my vinger sien.”

Sivuyile. Veg. Hardloop. Doen iets. Mthobeli probeer om verby Abosh te druk.

“Hy baklei terug! Blinde gek seun,” sê die derde een.

Abosh druk terug en Mthobeli se hak vang ’n half-begraafde klip. Hy struikel, en val toe plat op sy rug. Die grond, die gruis, die half-begraafde klippe: alles gee sy liggaam pynlike stampe. Sy kierie val na die eenkant en die kerse na die anderkant.

“Wat doen jy Abongile?” roep ’n meisie se stem van agter hom. “Los hom uit!”

Die meisie hardloop na hulle toe. Sy help Mthobeli op. Haar hand is sag en warm. Sy tel die kerse van die grond af op.

“Zimkhitha, dis nie jou saak nie. Laat dit gaan. Of wil jy hê ons moet met jou klein been-kop sussie mors? Wil jy dit hê?”

“Julle sal dit nie doen nie. Jy ken Tata. Jy weet wat hy sal doen as ek hom hiervan sê.”

Abongile staan terug. “Mnxim! Moenie dink ek laat die saak gaan daaroor nie. Ek is nie bang vir jou ou pa nie. Hy kom eers in Julie terug.” Abosh en die ander seun staan ook terug.

Zimkhitha draai terug om na Mthobeli te kyk. Sy sit haar hand saggies, vertroostend, op sy skouer. “Daardie kinders is idiote. Ek sal hulle terugkry as Tata vir ons kom kuier.”

Hy kannie help om haar raak te sien nie, sy oë veg om haar gesig helder uit te maak. Slanke gesig. Gevlegte hare. Baie wit tande. Sagte stem. Groot helder oë.

“Ek’s Zimkhitha mna. Wat is joune?”

“Mthobeli, “sê hy, nog steeds verskrik.

“Ek onthou jou van laasjaar by Phandulwazi. Waar bly jy nou?”

“Die geel huis aan die punt van daardie straat,” sê hy, en wys na die T-aansluiting verder af. “Jy gaan met hierdie straat af en dan draai jy links.”

Mna, ek bly in hierdie straat. Maar laat ek saam met jou huis toe stap. Wat het verlede jaar van jou geword? Het jy na ’n ander skool gegaan?”

Mthobeli het gehuiwer. Sy het jou gehelp. Moenie vir haar jok nie. “Ek het uitgeval … By die huis gebly. Mamma het vandag probeer om my terug te kry in Phandulwazi . Maar hulle sê hulle kan my nie neem nie.”

Hayi, Mthobeli. Moenie dit aanvaar nie. Dinge sal hierdie jaar verander. Verlede jaar het ek gehoor Sis’ Nthabiseng het met die ander onderwysers gepraat oor ’n fondsinsameling wat sy gaan organiseer. Hulle sal meer geld hê om die toerusting te koop wat julle ouens nodig het.”

Die twee het by sy huis aangekom en staan by die voorhek.

“Ek stel regtig belang in hierdie goed, en weet jy hoekom? My klein sussie,” sê Zimkhitha. “Net omdat hulle nie kan sien dat sy gestremdhede het dink hulle nie sy het spesiale hulp nodig nie. Hulle behandel haar asof sy dom gebore is. Sy is erg disleksies –jy weet –’n probleem om te leer lees. En ’n sosiale werker het vir ons gesê dat sy na ’n spesiale skool toe moet gaan. Hy het gesê hy ken die onderwysers by Phandulwazi – dat hulle baie werk het en nie tyd het om aan haar aandag te gee nie. Ek was so kwaad vir hom, want al wat sy nodig het is ’n bietjie ekstra hulp.”

“Wat het jou familie gedoen?”

“Ons het nie geluister nie. Niemand gaan ons vertel wat om met Ncumisa te doen nie, om haar ver weg te stuur nie.”

Dapper. Pragtig. Sagte hande.

*****

“Juffrou Khothe!” roep ’n stem agter Nthabiseng. Dis bekend.

Sy kyk terug. Dis Ta Sbu, een van die skool se opsigters. Sy en hy het nogal geheg geraak sedert sy aangekom het. Hy het duidelik ook die Dordrecht hitte gevoel, want hy het die baadjie-gedeelte van sy oorpak om sy middel gebind. Hy’s ’n sweterige massa, en werk sonder twyfel so hard soos altyd om dinge aan die werk te hou.

“Ta Sbu, wat’s fout? Ek sien jou nie gewoonlik hardloop nie.”

Hy kom tot stilstand langs haar. Hy is uitasem. Hy neem ’n paar oomblikke om homself rustig te maak, sy asem te skep. “Ek … wou jou iets vertel, ’n geheim.”

“Watse geheim is dit, Ta Sbu?”vra sy, belangstellend.

“Die ander onderwysers, ek glo nie hulle … hou van jou nie. Ek het hulle dinge hoor sê.”

Sy antwoord nie, en hou eenvoudig aan om na hom te kyk.

“Jy lyk asof jy my nie glo nie. Ek maak nie ’n grap hieroor nie. Ek het Me Mtwazi, Mej Zenze en Mnr Adams hoor praat oor jou.”

“Dis nie dat ek jou nie glo nie. Ek …”

“Jy is geskok. Ek verstaan. Kodwa dit verander nie wat ek gehoor het nie. Hulle wil jou uit hierdie skool uitkry. Hulle het gesê jy maak hulle werke moeiliker vir hulle … hierdie inklusie-besigheid. Mtwazi het iets gesê oor nie opleiding kry nie, dat hulle niks weet hoe om hierdie kinders te onderrig nie. Hulle sal hulle werke verloor. Miskien sal selfs die koerante betrokke raak…”

Sy kan voel hoe haar woede na die oppervlak styg. Sy probeer haarself beteuel, kalm bly. “Ek weet nie wat hulle van my wil hê nie. Al wat ek probeer doen is om seker te maak dat almal bekommerd is oor hierdie kinders. Die Departement het ons alreeds gewys hy gee nie om nie. Jy weet hoe dit hier is – ons het nie die goed wat ons nodig het om te onderrig nie. So nou wil hulle hê ek moet hulle help om hulle geheim weg te steek – dat ons nie regtig inklusief is nie?” Sy skud haar kop, teleurstelling in die middel van haar gedagtes.

Ta Sbu knik in ooreenstemming.

Hy knik. Hy stem saam met my; ’n bondgenoot. Dinge moet verander. Hy sal my help.

“Ek sien wat die regering met hierdie kinders doen. Ek het die Hoof vanoggend hoor praat met ’n kind wat daar was met sy ma. Ek dink die kind se naam was Mthobeli. Hy was laasjaar hier maar hy het uitgeval. Onthou jy hom?” het die opsigter aangegaan.

Sy knik. “Ek het hom vanoggend gesien. Hy was daar saam met sy ma. Wat het gebeur?”

“Hy het vir hulle gesê daar is geen spasie meer nie en dat die skool sukkel. Hy moet na ’n skool vir blindes gaan. Maar hy kan nie die dorp verlaat nie, dis te ver. En hy moet in staat wees om na hierdie skool te gaan, dis bedoel vir plaaslike kinders soos hy. Miskien is die Hoof reg. Ek weet nie. Ek onthou nou net dat jy my vertel het dat ons skool nie eers ’n maatskaplike werker of raadgewer het om kinders te help nie.”

Sy antwoord nie. Haar gedagtes jaag. Dinge moet hierdie jaar verander. As sy die een moet wees wat daardie vuurtjie moet aansteek, dan is dit wat sy sal doen.

***

Vertel ons wat dink jy: Is dit beter vir kinders met gestremdhede om spesiale skole by te woon (dikwels kosskole) of inklusiewe skole? Hoekom of hoekom nie?