Die bank ruik nog vars, soos asof dit gister gekoop is, asof die ‘nuwe meubels’ reuk in die winkel saam met dit huistoe gedra is. Dit het sy ma maande van spaar geneem om dit te koop. Dit was ’n trotse oomblik vir haar. Uiteindelik het die huis iewers ’n plek waar hy gemaklik kan sit; iets om die leë spasie te vul.
Mthobeli skuif gemakliker terug in die bank. Die dokter se woorde speel terug in sy gedagtes: ‘Ruik. Luister. Raak aan. Proe. Jy is besig om jou oë te verloor, Mthobeli, nie jou lewe nie. Gebruik jou ander sintuie. Maar dis oukei om vir hulp te vra as jy dit nie kan doen nie…’
“Hoekom hou jy jou kop skuins?” verbreek sy ma se stem die stilte. “Is daar iets waarna jy luister?”
Sy is besig om in die hoek te sit en stik, aan die anderkant van die kamer. Die naaimasjien sing en stop en sing weer terwyl sy die gordyne stik. Hy het weggeraak in sy eie gedagtes. Maar die klank van die venster wat oop ratel in ’n vlaag wind bring hom terug. Hy spreek sy gedagtes uit.
“Daardie dokter het gesê ek moet gewoond raak hieraan dat my oë besig is om te verswak. Hy het gesê ek moet my tyd gebruik as ek dinge doen. Om te luister, te ruik, te voel – om alles te doen wat my sal help weet wat aangaan.”
Hy leun vorentoe. Sy vingers voel die sagte, fluweelagtige rand van die bank se sitplek, sy voete is kaal op die koel, gladde sementvloer. Hy kyk in sy ma se rigting oor die kamer. Die lig wat by die voordeur inkom naby sy kant van die kamer help. Nogtans is dit ’n dowwe uitsig. Maar hy kan haar figuur uitmaak. Met haar rug teen die muur, sit sy regop op ’n stoeltjie, nog steeds agter haar naaimasjien; besig om die dag om te stik.
Sy’s besig. Jy weet sy hou nie daarvan as jy met haar praat as sy besig is nie.
Sy is stil vir ’n rukkie, en sê dan, “Ja kind. Jy weet wat die dokter gesê het, Mthobeli. Daar is geen kitsoplossing om dit te laat weggaan nie. Jy moet aanpas.”
Daar is ’n pouse in haar woorde en die gesing van die masjien toe dit weer begin. Die ongesproke probleem lê tussen hulle. Uiteindelik praat sy daaroor.
“Ek weet jy wil teruggaan skool toe. Maar wat as dinge nog so sleg gaan by Phandulwazi Hoër – soos verlede jaar? Wat gaan ons doen? Hulle het ons belowe dat dit ’n skool is wat kinders met gestremdhede inneem. ’n ‘Voldienste skool’, noem hulle dit. Dat alle kinders hier in Dordrecht daarheen kon gaan, niegestremd en met gestremdhede. Dat die onderwysers spesiaal opgelei is. Maar niemand het jou gehelp nie!” sê sy en klik haar tong in afkeur.
Sy is nou in volle vaart. Hy kan die woede en angstigheid in haar stem hoor terwyl dit styg. “Dit was net woorde. En jy is geboelie. Wat as hulle jou weer nie hierdie jaar kan neem nie? Ek kan jou nie na die spesiale skool vir blindes stuur nie. Dis baie ver weg, Mtho. Ek weet dat Mev Dube haar seun na so ’n spesiale skool gestuur het en dat hy goed doen. Hy word nie daar geboelie nie. Hy voel veilig. Maar ek kan dit nie bekostig nie. Wat is ek veronderstel om te doen?”
Haar woorde voel soos die pynlike prik van ’n naald. Sy lippe beweeg, sy mond voel of dit wil oopmaak en iets vir haar terug antwoord. Hoekom skree jy? Wat moet ek doen?
Sy’s weer stil. Hy’s stil. Net hulle gedagtes is besig.
“Ek wil hê jy moet sterk wees,” sê sy terwyl sy weereens die stilte verbreek. “Wees voorbereid vir teleurstelling – ons weet nie wat ons more by Phandulwazi sal kry nie, wat die Hoof sal sê nie. Hy mag sê dat hy niks hierdie jaar vir ons het nie; dat ons ons kans verbeur het toe jy uitgegaan het. Of hy kan ons verwelkom, en dan gaan ons in en kry dieselfde nonsens wat jou verlede jaar laat uitgaan het.”
Hoekom sê jy altyd ek moet sterk wees, Ma? In 2016 is ek sterk. Ek is gefokus. Ek is nie swak nie.
As sy net sy gedagtes kon lees, sal sy ophou om vir hom dieselfde ding oor en oor te sê asof hy ’n baba is: ‘Bid om weer in te kom by Phandulwazi.’ ‘Dis nou ’n nuwe jaar, miskien het dinge hier verander.’ ‘Miskien het hulle die onderwysers vir opleiding gestuur gedurende die Desember vakansie.’ ‘Ek wil nie hê jy moet soos verlede jaar by die huis sit en niks doen nie.’
Hy dink wat sy neef, Sivuyile hom altyd vertel.
“Jy kan nie swak wees nie. As jy vyftien is, is jy amper die man van die huis. Moenie opgee nie. Jy huil nie oor sommige van die onderwysers nie omgegee het nie, hoe die kinders jou laasjaar geboelie het nie. Bly jy sterk. 2016 is ’n nuwe jaar.”
As sy ma sy gedagtes kon lees, sou sy weet hoe ernstig hy Sivuyile se woorde ter harte neem.
Sy stop die stikwerk. “Ek wil nie hê jy moet tuine natgooi en skottelgoed was nie. Jy moet daarbuite wees, met ’n boek in die hand, besig om vir sukses te veg. Dis wat elke vyftienjarige seun behoort te doen.”
“Mamma, Sivuyile praat met my, moedig my aan. Hy het vir my gesê om sterk te wees. Niemand anders gee om vir ons twee in Dordrecht nie. Hulle gee nie om dat my oë ingee nie – hulle gee nie eers om dat hulle eie kinders met gestremdhede. onderrig word nie. So ons moet sterk wees.”
“Mtho…”
Mtho. Dis meer soos dit moet wees. Die verandering in die toon van sy ma se stem registreer dadelik by hom. Sy praat nou met ’n sagter, warmer stem.
“Sivuyile is jou neef. Dis sy werk om sulke goed vir jou te sê. Op hierdie oomblik is dit net ek jy hier; hy’s in Kaapstad. Ek weet hoe belangrik opvoeding vir jou is. Niemand sal vir jou ’n werk gee sonder dit nie. Veral nie met jou swak sig nie. Tog is niks verseker nie … en dit maak my seer hoe jy deur die onderwysers geïgnoreer is en geboelie is.”
Haar stem raak sterker, vinnig. “Maar more gaan ons na Phandulwazi toe, en ons gaan hulle maak luister.”
Die singgeluid van die naaimasjien begin weer.
***
Vertel ons wat dink jy: Glo die meeste ouers met kinders wat gestremdhede het nie dat hulle onderrig benodig nie? Word sulke kinders weggehou van die skool af?