Een van die dinge wat mense die meeste vrees, is om die dak oor hul koppe te verloor; om hul huis te verloor. Wat van jou? En geen wonder nie. Die oomblik wat jy dakloos word, word jy in ’n nuwe bestaan in gewerp: vrees, honger, koue, siekte, raap en skraap vir geld, vernedering, agterdog en aaklige onsekerheid. ’n Wêreld waarin jy van dag tot dag bloot probeer oorleef.

Soos Ollie in Hoop verrys uit die as sê, “Rus? Ek sal rus wanneer ek dood is. Ek dink nie hierdie mense weet hoe dit is om koud en honger te wees en konstant oor jou skouer te moet kyk nie. … En mense behandel jou nie met waardigheid en respek nie, want jy’s dakloos. Baie mense wens hulle was Bill Gates, maar niémand wens om dakloos te wees nie.”

Wat ’n groot kloof is dit nie in ons gemeenskap nie: mense met huise teenoor huisloses! Ons grondwet sê in artikel 26, “1) Elkeen het die reg op toegang tot geskikte behuising.” Maar ongelukkig is Ollie in hierdie storie nie ’n uitsondering nie. Daar word geskat dat daar omtrent 200 000 daklose mense in Suid-Afrika is. Lees meer navorsing oor dakloses hier.

In baie van ons se koppe is die stereotipiese prentjie van ’n hawelose persoon ’n verslonsde, sonverbrande, dwelmverslaafde of “mal” straatmens.

En die tragedie van dwelmverslawing lei mense soms tot die uiterste van dakloosheid. Miskien word hulle gewelddadig, of hulle steel van familielede om dwelms te koop en word uitgeskop. Miskien verloor hulle hul inkomste om huur te betaal en spandeer in elk geval al hulle geld op dwelms.

Dis ook waar dat sommige ernstige geestelike siektes soos skisofrenie daartoe kan lei dat ’n persoon aan waanbeelde lei en in hul kop in ’n alternatiewe werklikheid leef. Hulle is nie meer in staat om met ander mense saam te leef nie.

Maar die storie wys duidelik, soos Ollie sê, “Nie elke hawelose persoon is ’n dief of dwelmverslaafde nie.” Dis nie naastenby die volle prentjie nie en, “Soms gebeur slegte dinge met goeie mense.”

Hoekom ís so baie mense dakloos in ons land?

Ons kan eers kyk na wat strukturele oorsake genoem word. Dit verwys na probleme in die manier waarop ons gemeenskap georganiseer is en watter hulpbronne dit op die oomblik het. Ons het hoë vlakke van werkloosheid en baie mense is afhanklik, of arm. Hulle kan nie bekostig om hul eie behuising te huur of koop nie. Plus ons het armoede op die platteland, so baie duisende mense kom na die stede om werk te soek.

Terselfdertyd het ons ’n groot tekort aan formele, goedkoop behuising wat deur die regering verskaf word. Vir baie mense is die behuising wat beskikbaar is steeds te duur. Wat van informele plakkershuise? Die storie wys dat Ollie nie kon bekostig om selfs die goedkoopste behuising – ’n shack agterin iemand se agterplaas, kan bekostig nie.

Miskien sou hy ’n kamer ver op die buitewyke van die stad baie goedkoop kon huur. Maar hoe sou hy sy vervoer tot by die winkelsentrum – enige winkelsentrum – kon bekostig om sy paar rande oorlewingsgeld per dag te verdien?

Tweedens vind baie mense hulself dakloos oor persoonlike redes. In die studie by die internetskakel hierbo, het die navorsers gevind dat mishandeling, gesinsgeweld, familieprobleme, uitsetting, ekonomiese probleme tuis, en die behoefte om onafhanklikheid die hoofredes is vir dakloosheid.

Ollie was op straat vir baie persoonlike redes. Sy ouers is dood in ’n brand, en sy hartelose tante en oom het hom geestelik en emosioneel mishandel. Hulle was emosioneel koud teenoor hom, het heeltyd gekla oor hulle hom moet kosgee, plus hulle het geïmpliseer dat hy lui is en nie eens vir werk soek nie. Hy het gevoel hy moet weggaan.

In die storie is daar verskeie besonderhede wat ons die baie onverwagte probleme van ’n hawelose lewe wys. Kyk byvoorbeeld hierna: “Ek kan nie boeke uitneem nie, want ek kan nie ’n biblioteekkaartjie kry sonder bewys van my adres nie. En die boeke sal in elk geval net beskadig word en dan sal ek ’n boete kry.” En dan is daar Ollie se verligting toe hy vind sy rugsak met sy ID in is nie gesteel nie. Dink aan al die dinge – insluitend maatskaplike dienste – waarvoor jy ’n ID nodig het.

Volgende, soos die storie wys, is dit moeilik om weer van die strate af te kom as jy eers dakloos is, en om steeds hoopvol te bly. Hier is ’n voorbeeld van die soort keuse waarvoor Ollie te staan gekom het: “Ja, ek sou seker by ’n bende kon aansluit en verniet in hulle huis kon bly. Ek was in die versoeking toe hulle my probeer werf het, maar niks in die lewe is ooit verniet nie – op die ou end sal jy die prys betaal. My Dada het gesê dis beter om skewe tande en reguit waardes.”

Hoe gaan jy in ’n werksonderhoud ’n indruk maak as jy stukkende klere aan het, onversorg is, en geen huisadres of vorige werkservaring het nie? Jy sal met groot agterdogtigheid hanteer word. Ons simpatiseer met Ollie toe hy aan die onderhoud dink wat Kitty gereël het: “Ek kan nie.” Ek begin op en af stap. “Ek is nie reg aangetrek vir ’n onderhoud nie. Ek is nie vir enigiets gekwalifiseer nie.”

In die storie stel Khetiwe se ervaring in haar ouers se skuiling vir dakloses haar in staat om verby die stereotipe van die “dakloses” te kyk en te sien hoe baie Ollie het om te bied. “Hayini, jy lyk heeltemal fine, en jy het begin studeer, onthou jy? Jy het matriek en jy het goeie idees. Jy hoort nie op straat nie.”

Ollie is duidelik die held in hierdie storie: hy hou aan probeer, gee nooit moed op nie en werk ekstra hard om verhoudings te bou, soos met mevrou Schmidt en Kitty. Maar Kitty is ook ’n heldin in die storie, die persoon wat ons as rolmodel kan navolg. Sy is iemand wat goedhartigheid, warmte en empatie het en die menslikheid in elke persoon sien, en daarby ook iemand wat die woord by die daad voeg. Sy is iemand wat dinge gedoen kry.

Dit is hartseer om te dink hoeveel hawelose mense “daar buite” net ’n kans soos dié van iemand soos sy nodig het om ’n beter toekoms te begin bou.

Hoop verrys uit die as wys ook waarom gratis maatskaplike dienste van die regering so belangrik is, as ons almal as gelyk en waardig beskou. Ons sien waarom dit in ’n gemeenskap wat omgee nie géld moet wees wat waarborg dat jy ’n ambulans en mediese sorg kry nie. As dit die geval was, sou Ollie beslis dood gewees het. Hy sou ’n gewelddadige, koue, eensame dood van die messteke en septisemie (verswering) op straat gesterf het.

En hier, ten einde, is ’n idee waarvoor die tyd dalk ryp is, aangesien volle werksverskaffing vir almal op die meeste plekke ’n vêraf droom is: ’n basiese inkomste-toelaag vir almal.

Soos miljoene jong Suid-Afrikaners, is weeskind Ollie jonk, gesond en hy het nog nooit opleiding of ’n formele werk gehad nie. Hy kan dus geen maatskaplike werk-toelaag of werkloosheidsversekering-voordeel kry nie. Waarvan moet hy in sy omstandighede leef? Misdaad?

’n Basiese inkomste-toelaag is ’n eenvoudige idee wat maklik is om toe te pas. Elke enkele volwassene in die land kry ’n basiese bedrag geld wat elke maand in hul rekening inbetaal word. Dis nie nodig om te bewys jy is werkloos nie, en daar is geen ruimte vir korrupsie nie. Kom ons sê dit is R2 000. Mense wat werk het en ander inkomste het, hoef dit nie outomaties “terug te betaal” aan die regering  nie, want hulle betaal belasting. Die bedrag kan selfs by hul gewone belasting bygevoeg word.

Dit sal egter ’n redding wees vir al die arm en sukkelende mense wat óf so min verdien het dat hulle geen belasting betaal nie, of geen inkomste het nie. En die arm mense se R2 000 sal in ons ekonomie sirkuleer en heel moontlik sal misdaad en ander maatskaplike euwels afneem.

Sou dit nie wonderlik wees, en allerlei uitgawes van die regering soos misdaadbestryding en gesondheidsorg verminder nie?

Hier is meer inligting oor basiese inkomste-toelae.

***

Vertel ons: Wat dink jy van ’n Basiese Inkomste-toelaag vir alle volwassenes in Suid-Afrika?