“Theo het jy vir talentkonsert geoefen?” vra Ma uit haar slaapkamer-nou-korona-kantoor. “Jou onderwyser sê jou doen goed, nè? Jy moet net aanhou oefen.”

My musiekonderwyser lieg deur haar tande, maar ek kla nie. Want vandat ons teruggegaan het skool toe – oggende vir groep A (myne), middae vir groep B – glo Ma verkeerdelik dat my trompetlesse ook by die skool gebeur. Die trompet. ’n Instrument waarop jy sonder jou masker moet speel, terwyl jy longskuim hier, daar en oraloor uitblaas. Ja-nee. Trompetlesse is steeds aanlyn. Al gaan hulle my op die verhoog afneem vir die talentkonsert, op my eie, van vêr af. Supposedly. As ek dit wel gaan doen.

“Theo!” raas Ma. “Ek het ’n Zoom-vergadering oor twintig minute. Oefen nóú.”

Ek maak die swart trompetkas oop en die sonlig wat deur die venter inkom weerkaats op die koper. Dit is nog net so stunning soos die dag toe Pa dit vir my in Chicago gekoop het. Ek wil steeds gelyk puke¸ skreeu en huil.

“Ek sal elke dag oefen,” het ek vir hom gesê.

“Ek belowe, op die Bybel,” het ek gesmeek.

Ek was elf en het vir die wintervakansie (somer daar) by hom gaan kuier, soos ek elke jaar gedoen het. Hy het vir die Chicago-tak van National Public Radio (NPR), wat ook podcasts maak, gewerk. Maar hy het verlof gevat en ons het pret gehad. Ons het selfs na ’n groot plek gegaan waar jy binne kan bergklim. Maar daardie somer het jazz onder my vel ingekruip.

Nie net jazz nie, die trompet. Hoe iets wat so hard en brassy blaas dat dit deur murg en been sny, ook so soet kan sing dat dit voel asof jy na ’n stadige, sensuele dans kyk. Ek was vasgevang. Verslaaf. Ek wou meer, meer, meer hê, soos my ma haar koffie nodig het, of miskien soos daai straatkinders hul tik nodig het.

Ek móés nog shows sien.

Pa het my gevat. Keer op keer daardie winter-somervakansie. Ek het aanhou smeek. Ek wou nie net die musiek hoor nie, ek wou leer hoe om dit te maak. Op die ou end het hy Ma gebel en sy het ingestem om my vir lesse in te skryf, en hy het vir my die trompet gekoop. Splinternuut. En ek speel nog al die tyd.

Wel.

Tot twee maande terug, anyway.

Tik, tik, tik, kom Ma aangeloop en haar skoene klop die ritme van haar bui uit. Ek weet haar hand gaan op my skouer land, nog voor dit aan my raak.

“Hy sou so trots gewees het op jou,” sê Ma. In daardie stem. Die een vol gedempte jammerte, wat niemand wil hoor nie. Ek sweer dis waarom die Blues uitgevind is, want dit druk dié gevoel uit, die harde snykant van verdriet, sonder om so pateties te klink. Swak. ’n Stemtoon wat jou net kwáád maak vir die persoon wat praat.

Ek trek my skouers op. “Ek sal môre oefen,” sê ek en maak Netflix oop.

***

Vertel ons: Verstaan jy wat Theo bedoel as hy sê jammerte kan jou kwaad laat voel. Het dit al ooit met jou gebeur?