Uit my posisie hier hoog op die dak kan ek tot reg in my eienaar se kantoor sien. Hy’s ’n ou man en almal noem hom Pa, so ek dink ook aan hom as Pa. Net om dinge bietjie duideliker te maak: my naam is Diesel. Ek is ’n 14-jarige glansende grys kat. Dit beteken ek is omtrent 70 in mensejare.

Ek is egter nie sommer net enige kat nie. Ek het ’n reuse-koninkryk. Hier waar ek woon, is ek die Bendemoeder van Katte, en ek het die littekens om dit te bewys.

Een oggend staan Pa oudergewoonte vroeg op en fluit ons geheime sein. Ek spring van die dak af om my ontbyt te eet, terwyl hy sy ou refrein sing: “Waar was jy laas nag, Diesel?”

Ek miaau, herinner hom: “Ek’s nie jou kind nie, ou man. Ek is ’n kat en ek sluip in die nag deur die stil strate.”

Ek dink ook ek is mooi, te oordeel na die mannetjieskatte se reaksies wanneer hulle my sien. Hulle jaag my oral oor die dakke rond en soms as ek van die ou hou, laat ek hom toe om my te vang en dan het ons ’n one-night stand.

Dit het nie altyd so goed gegaan nie. Toe Pa se dogter my en my tweelingsuster, Milan, na Pa se huis gebring het, was dit moeilik. In daai dae het Pa niks van katte geweet nie.

Milan was ’n regte flerrie en het al die toertjies geken om mense, en ander katte, op haar verlief te laat raak. Sy het graag geflirt met die mannetjieskatte wat in die aande buite ons huis kom skreeu.

Eendag spring ’n groot gemmerkat tot in ons erf. Hy is egter nie hier om Milan te sien nie, maar vir my. Hy is enorm, met ’n groot kop vol ou littekens. Pa probeer hom wegjaag, maar hy staan sy man. Pa draai die kraan oop en spuit hom nat, maar die gemmerkat sit net daar. Toe draai sy om en pie net daar. Pa is deurmekaar, dis nogal scary.

Maar Pa, die ou softie, gee op die ou end in, sit vir die gemmer kos neer en noem hom Ghaddafi. Ek hoor later hoe sê Pa vir die ou vrou, “Ghaddafi is ’n hond van ’n kat; hy het nie ’n bang haar op sy kop nie.”

Die ou vrou hou duidelik nie van Ghaddafi se bakkies nie, want sy sê vir Pa: “Raak ontslae van daai lelike kat!”

Toe hy dit hoor, rol Ghaddafi op sy rug met sy pote in die lug en maak of hy dood is. Dit laat die ou vrou lag en sy laat hom toe om te bly.

Geen bang haar nie – dit kan jy weer sê! Ander wannabe top-katte vlug verskrik wanneer hulle Ghaddafi sien. Die meeste katte beskou hom egter as ’n held en ek geniet ook sy glorie. Hy het net vir my oë, ons word sommer gou ’n paartjie en ek ontvang ook ’n bietjie respek. Die Here behoed enige kat wat quickie met my wil hê. Ghaddafi neem woes wraak.

Milan is nie vreeslik bly om my onthalwe nie en begin hierna met ander katte in ’n ander gebied uithang.

Toe tref ’n kar haar eendag in Hoofstraat. Die ou vrou kry haar waar sy in die straat lê, skaars nog lewend. Die ou vrou bel haar dogter en hulle jaag laat nag met Milan veearts toe. Milan oorleef, maar toe sy by die huis kom, is haar kakebeen met draad toegespan. Sy het ook haar regteroog verloor, en is nou effens doof. Ek moet tyd maak om na haar om te sien, maar Ghaddafi begryp en gee my kans om by haar te wees.

Sê ons: Het jy al ooit ’n storie gelees wat uit die oogpunt van diere geskryf is? Hou jy van hierdie een?