Dit was stil en donker toe dit gebeur het. Die maan het in die lug gehang, hoog bokant Sipho se kop, en die blare van die eikeboom wat voor hom opgerys het, het nie beweeg nie.

Die stad, soos die res van Suid-Afrika is deur ’n hittegolf getref. Die strande was gepak. Die sand op daardie dag was bedek met ’n oordak van helderkleurige, fladderende strandsambrele. In die see was die water amper lou en slymerig rondom die skare van liggame wat in die golwe op en af gegaan het.

Sipho was nog net eenkeer in al sy agtien jaar in die see. Die strand was net per bus toeganklik, en daarvoor het jy geld nodig gehad. Tog was die plek waar hy gebly het op die kruin van ’n heuwel en jy kon die see in die verte sien.

‘Ligging, ligging, ligging’ is die dreunsang van die eiendomsagente. In hierdie dorp het die armes die heel beste ‘ligging’ gehad –die beste uitsigte– maar dit was skaars raakgesien deur die mense wat op ou dromme of plastiekstoele gesit het in die skadu wat deur hulle houthutte gegooi is.

Sipho het werk gekry vir die seisoen en sy ma was trots op hom. Die meeste van sy vriende het geen werk gehad nie; die meeste van hulle het nie Matriek of enige vaardighede gehad nie.

Sy het ernstig met hom gepraat oor sy vriende, en hom gewaarsku oor die gevare van verveeldheid. Sy ma het nooit van verveeldheid gehou nie.

“Ledigheid is die duiwel se oorkussing,” was haar waarskuwing aan hom.

Sipho het veronderstel dat sy waarskynlik reg was. Hy het geweet dat die meeste van sy vriende al voorheen met ‘die duiwel’ kennisgemaak het in hulle jong lewens, en dat hulle die bose een goed geken het. Gedurende die afgelope twee jaar het hy al minder en minder van hulle gesien, maar terwyl hy so alleen in die skadu van hulle huis gesit het terwyl sy ma weg was om te werk, het hy gevoel hoe sy vriende elke minuut nader aan hom kom.

Sipho het nooit daarvan gehou om alleen te wees nie. In die plek waar hy grootgeword het, was om alleen te wees nooit ’n opsie nie. Mihlali, Mpho en Kazadi het van die begin af aan sy deur geklop. Hulle was sy bende, sy groep.

Maar sy ma wou altyd iets beters as dit gehad het; het altyd geglo dat hy vir iets beter as dit bestem is. Mihlali, Mpho en Kazadi het haar opinie geken, en ook hulle ma’s. Hulle was almal nooit beïndruk met Sipho se ma nie.

“Net omdat jy ’n goeie opvoeding en ’n werk het, moet jy nie dink jy is beter as ons nie,” het hulle hard gesê, sodat sy dit kon hoor.

“Die ding is Sipho,” het sy ma in die privaatheid van die dowwe binnekant van hulle klein huisie gesê, “Ek wil beter hê. Ek wil hê jy moet beter wees. Hierdie kan nooit al wees wat daar is nie.”

Wel, een ding was altyd waar, en dit was dat Sipho altyd goed gedoen het op skool. Hy het glad nie so hard gewerk nie, maar skoolwerk was nooit moeilik vir hom gewees nie.

“ Jy is soos jou pa,” het sy ma gesê, en haar oë het na die venster geskuif soos altyd wanneer sy van sy pa gepraat het. “Alles het altyd maklik vir hom gekom. Hy hoef nooit probeer het nie.”

Sipho kon skaars sy pa onthou. Die man is weg toe Sipho ’n klein seuntjie was. “Hy was altyd so gou verveeld,” het sy ma hom vertel met ’n diep sug. “Het altyd van werk verander en van dorp verander. Uiteindelik het hy ook vir my moeg geword; vir ons.”

Sipho het afgekyk as sy dit gesê het en haar oë geknip het en begin besig raak in die kamer, en dan vir Sipho liggies op sy kop aanraak.

“Ek is jammer my seun,” het sy gesê, en bygevoeg, “Dit maak nie nou saak nie. Ons kom goed op ons eie reg.”

Niemand van sy bende het ook pa’s gehad nie, dus het Sipho aanvaar dat dit normaal is. Maar tog het hy sy pa dikwels gemis – veral by die prysuitdeling. Dit was dan wat hy langs Pumela op die verhoog gestaan het. Sy sou haar hand oplig om haar trotse pa te groet, wat in die voorste ry langs haar ma gesit het, alhoewel hulle al baie jare geskei is.

Hy was altyd so streng gewees. Pumela het oor die jare dikwels vir Sipho gefluister dat dit makliker sou wees om glad nie ’n pa te hê nie, as een soos hare. Haar ouers was geskei, maar haar pa het altyd opgedaag vir skoolfunksies. Haar ma was stil langs hom, terwyl hulle albei die prys bekyk het wat sy ook al ontvang het, en haar pa dan gemompel het: “Volgende keer moet jy beter doen. Die wiskunde-prys – dis die een. Dit is die belangrikste een.”

Die probleem was, Sipho het altyd die wiskunde-prys gekry. Wiskunde was eenvoudig maklik vir hom. Pumela het haar kop geskud, regdeur laerskool, en in die hoërskool waarheen hulle saam gevorder het.

“Dis net nie regverdig nie Sipho. Nie regverdig dat jy dit altyd kry met amper geen werk nie. Maar jy sal sien, eendag sal ek dit kry. Eendag.”

Mihali,Mpho en Kazadi het na ’n ander skool as Sipho en Pumela gegaan. Hulle het na die groot skool op die heuwel geloop, met ’n uitsig oor die dorp en die verre see. In die hoërskool was hulle meer tuis as in die klas. Teen die tyd dat hulle vyftien was het hulle almal Graad 9 minstens eenkeer gedruip.

Hulle het daaroor gelag; het hulle koppe teruggegooi en gelag. Hulle het nog kom kuier, en in die skadu agter die huis gesit en vir Sipho van hulle avonture vertel. Toe hy sestien was, het Sipho regtig na hulle begin luister. ’n Diep woede het in sy maag begin groei daardie tyd, en sy ma kon dit sien, en dit het haar bekommerd gemaak.

“Daardie seuns sal niks anders as moeilikheid vir jou beteken nie Sipho,” het sy vir hom gesê met ’n frons op haar voorkop.

Sipho het sy skouers opgetrek en weggeloop. Hy het geweet sy was reg, maar hy het nie toe omgegee nie. Teen sestien was hy soos ’n weghol trein wat op pad was wie weet waarheen, en niks kon hom keer nie, nie eers Pumela nie.

***

Vertel ons: Dink jy sy ma gee vir Sipho goeie raad? Is dit beter om sekere vriendskappe te los?