“Dis my ma se stem,” sê Afrika. “Siestog, sy’t verdwaal! Ek kan hoor sy’s ontsteld. Dit klink of sy naby die boekstalletjie is. Kom ons hardloop, Asanda!”

Die twee kinders hardloop saam tot by die boekstalletjie, en daar, reg voor die stalletjie, staan Mme wa Afrika en Dintle. Mamma maak haar arms oop en Afrika hardloop reguit in haar arms in.

“Hallo, Mamma, is als reg?” vra Afrika.

“Jy hoef nie meer bekommerd te wees nie, ons het jou en Dintle nou gekry. Julle is nie meer verdwaal nie.”

Dintle is baie bly om haar ouboet te sien. Afrika buk af en gee haar ’n drukkie.

“Mamma, dit is Asanda, my nuwe maat,” sê Afrika. “Sy het my geleer hoe om ’n koeldrankbottel op my kop te balanseer. Sy wil ’n boek koop.”

“Hallo, Asanda, gaaf om jou te ontmoet,” sê Mme wa Afrika met ’n glimlag. “Kom ons kyk deur die boeke en kyk wat ons kan kry! Afrika, onthou jy wou mos geleer het hoe om ’n voëlhok te bou.” Hulle kyk na die boeke en Mamma vind een wat wys hoe om verskillende goed uit hout te maak.

“Kan ek dit asseblief kry?” vra Afrika vir sy ma.

“Ja, as jy dit graag wil hê,” sê Mamma.

Toe is dit tyd om te gaan. “Kyk, Asanda! Ek gaan my boek op my kop huis toe dra!” sê Afrika, en balanseer sy nuwe boek op sy kop.

“Onthou om met jou neus in die lug te loop, soos ’n prins!” lag Asanda.