neo-6col-flat-lores

Van bo uit die takke kan Neo tot aan die einde van die wêreld sien. En daar is so baie êrens daar buite dat dit hom amper bang maak om daaraan te dink.

Maar die boom hou hom styf vas en fluister: “Gaan verken. Moenie bang wees nie. Daar’s ’n wonderlike, grote, wye wêreld daar buite.”

Neo klim af en begin deur die veld stap.

Gou kom hy op ’n harde sandheuweltjie af, met klein gaatjies daarin, soos klein deurtjies. Hy kan ’n miljoen besige stemme binne-in hoor, en die getrippel van ses miljoen klein voetjies wat rondhardloop.

“Hallo! Wie is julle?” roep Neo by een van die deurtjies.

“Hallo!” antwoord ’n klein stemmetjie. “Ons is miere. Ons vertel die stories van die wêreld hier binne. Wil jy ook hoor?”

Neo is dol oor stories en hy gaan sit om te luister. Die miere vertel hulle stories van die veld en die bos, en die berge, en die stede doer ver.

“So baie stories?” vra Neo.

“Daar is net soveel stories as wat daar sterre aan die hemel is,” antwoord die miere.

Neo wuif tot siens en stap verder deur die veld.