Neo kyk by sy kamervenster uit na die grys lug en die grys straat met al die nat, grys mense wat deur die grys, gietende reën skarrel. Hy kan nie buitentoe gaan nie, en hy het reeds al sy boeke vir Mbali gelees.

Net toe kom Gogo in, met haar hare wat in alle rigtings staan van die wind buite. Sy hou iets vas. Neo kan sien dit is platterig, en vierkanterig, en baie kleurvol … en dit kan oopmaak – net soos ’n skatkis!

“Dit was my gunstelingboek toe ek so oud soos jy was,” sê Gogo vir Neo. “Dit was my deur na die grote, wye wêreld.”

Toe maak sy die boek oop.

Op die eerste bladsy is daar ’n prent van ’n betowerde plek, ver weg van die grys, grys dag. Die veld is groen en goud en bruin, met ’n groot, wye blou hemel bo, en ’n warm, geel son wat neer bak.

“Sjoe! Is dit werklik?” vra Neo.

Gogo glimlag. “Weet jy dan nie? Alle stories is werklik, as jy in hulle glo,” sê sy. Toe wys sy na die plek op die bladsy waar ’n klein seuntjie, omtrent so groot soos Neo, deur die veld stap.