This story is available in English, IsiXhosa, IsiZulu, Sepedi, and Sesotho.

***

Vrydag is altyd die groot dag van die “Sterpryse”.

Thoko het al ʼn geel ster vir haar wiskundesomme verdien, ʼn rooi ster vir haar netjiese handskrif, en ʼn blou ster vir “skoon hande”. ʼn Mens kry ʼn groen ster wanneer jy juffrou McKensie help om haar groot sak van haar motor na die klaskamer te dra. En ʼn goue ster is vir lees. Goue sterre is die beste!

Die sterre word altyd uitgedeel net voor die skoolklok lui en almal uitstorm om hulle ma’s, pa’s, oumas of tannies op die speelgrond te ontmoet. Almal, behalwe Thoko, want sy woon naby die skool en kan huis toe stap. Thoko woon saam met haar ma agter Gogo se kleremakerswinkel.

Vrydae is ook spesiaal, want dan kry Thoko geld om op pad huis toe iets lekkers te koop. En hierdie Vrydag is sy ekstra gelukkig, want Thoko was net betyds in die parkeerterrein om juffrou McKensie te help om haar groot sak klas toe te dra. Dalk sal sy ʼn groen ster kry. ʼn Goue ster vir lees sal natuurlik nog beter wees.

Thoko het die afgelope tyd ekstra hard geoefen om te lees – om met gevoel te lees, ná ʼn komma asem te skep, en om na ʼn punt te stop. Die beste leser is Brendan. Die kinders noem hom “Snoep Ogies” omdat hy so baie boeke verslind.

Thoko help juffrou McKensie om werkblaaie uit te deel. Vrydag se werkblad gaan oor tyd − en dit gaan heeltemal te stadig verby vir Thoko. As sy net al die wysers op die getekende horlosies kon aandraai en by die tyd vir die Sterpryse kon laat stop! In die musiekklas kan sy nie wag vir die laaste reël van ʼn nuwe liedjie om te eindig nie. Dit is swaar om te wag vir die Sterpryse.

Hulle het die laaste periode van die skooldag vry, en Thoko besluit om te lees. En terwyl sy lees, vergeet sy heeltemal van die tyd − sy lees eers een boek, toe nog een, en toe nog een. Toe sy klaar die titels van die boeke op haar leeslys geskryf het, is juffrou McKensie gereed om die Sterpryse toe te ken.

Shane, Rhapelang, Corné en Taitum kry almal geel sterre. Gift, Gaswin, Aydon, Chleo en Kay-Lee kry rooi sterre. Roche, Shaunique en Miscka kry groen sterre. En Dana Rose, wat darem pouse die groen blinkertjies van haar vingers afgewas het, kry ʼn blou ster. Toe hoor Thoko hoe haar naam geroep word.

“Thoko en Brendan,” kondig juffrou McKensie aan, en kyk na die leeslyste. Brendan het vyf boeke gelees en Thoko ses! Sy voel of sy kan wegsmelt van geluk toe juffrou McKensie ʼn goue ster op haar voorkop plak.

“Klang-klang!” lui die skoolklok, en Thoko hardloop deur die skoolhekke. Sy kan nie wag om vir Mama en Gogo haar goue ster te wys nie. Toe sy by mevrou Ismail se oliebolstalletjie kom, is sy rooi in die gesig van die hardloop. Mevrou Ismail se klein dogtertjie, Sharifa, maak of sy die winkelier is. Sy gee vir Thoko ʼn oliebol in ʼn papiersakkie en glimlag liefies. “Dankie,” sê Thoko en hardloop vinnig huis toe.

“Mama! Gogo!” roep sy, en storm by die voordeur in. “Kyk wat het ek gekry!”

Gogo kyk van haar naaldwerk af op en Mama loer om die hoek.

“Molo, Thoko!” sê hulle. “Hoe was die skooldag?”

“Kyk!” sê Thoko. Mama en Gogo kyk terwyl Thoko na haar voorkop wys.

“Kyk na wat, Thoko?” vra Gogo.

“My goue ster!” sê Thoko ongeduldig.

“Watter goue ster?” vra Mama.

Dié een,” sê Thoko, en trek haar vinger oor haar voorkop. Maar sy voel net haar gladde vel! Die goue ster is weg! Thoko bars in trane uit terwyl sy vertel hoe sy ʼn goue ster gekry het vir lees.

“Waar het jy dit laas gehad?” vra Mama.

“By die skool,” antwoord Thoko.

“En wat het jy na skool gedoen?” vra Gogo. In trane vertel Thoko van haar pad huis toe na skool.

“Wel, dit is net ʼn papierster,” sê Mama. Maar dit is nie. Dit is ʼn baie spesiale goue ster.

“Droog jou trane af, en dan gaan soek ons jou goue ster,” sê Gogo.

Gogo help Thoko om op haar spore terug te loop, om die hoek en langs die pad terug tot by die skool. En by mevrou Ismail se oliebolstalletjie kry hulle Thoko se goue ster − op Sharifa se voorkop! Toe mevrou Ismail Thoko se hartseer storie hoor, sê sy: “Sharifa my skat, daardie goue ster wat jy opgetel het, behoort aan Thoko.” Maar klein Sharifa is dol oor Thoko se goue ster. En toe mevrou Ismail dit probeer aftrek, skree sy so hard dat verbygangers dink sy word vermoor.

Gogo draai na Thoko toe. “Sharifa is te klein om te verstaan wat regverdig is. Maar jy is oud genoeg om bedagsaam te wees. Laat haar toe om jou goue ster te hou,” sê sy. Thoko dink ʼn rukkie daaroor na. Die hoekies van die goue ster het opgekrul en dit lyk of dit weer gaan afval. “Nou goed dan,” sê Thoko, “Sharifa kan dit maar hou.” Maar diep binne haar voel sy nog hartseer. Dis nie so maklik om ʼn goue ster te kry nie.

Toe dit slaaptyd is, bring Gogo vir Thoko iets spesiaals wat sy gemaak het – ʼn goue ster vol blinkertjies op ʼn haarknip. “Dit is omdat jy so ʼn goeie leser is,” sê Gogo. Toe soen sy Thoko op die voorkop en fluister, “En dit is omdat jy so ʼn liewe, bedagsame kind is.” Thoko raak aan haar voorkop en dink ‘n bietjie voor sy aan die slaap raak. “Goue sterre se punte krul om en hulle val af. Soentjies hou vir altyd!”

***

‘A gold star and a kiss for Thoko’ was a story especially written for World Read Aloud Day 2013 by one of South Africa’s best-known children’s authors and illustrators, Niki Daly. For more children’s stories, literacy tips and information, visit the Nal’ibali Reading-for-Enjoyment Campaign at www.nalibali.org or www.nalibali.mobi.