“O, goeiste,” roep Ma. “Hoe op aarde het sy daar bo gekom?”

Die gawe vrou kyk in die lug op, en sien hoe Zimkhitha op die wolke dans. “Lag … lag sy?” vra die vrou.

“Zimkhitha lag altyd,” sê haar ma en pa tegelyk. “Ons kan haar nie maak ophou nie. Luister.” Van hoog bo uit die lug kom Zimkhitha se lag aangesweef soos die geluid van ’n klokkie wat klingel.

“O, nee!” roep haar ma, en wring haar hande saam. “Netnou val sy in die see.”

“Of binne-in ’n roosboom,” kreun haar pa.

“Ek is ’n wetenskaplike,” sê die gawe vrou, “en een van die eerste dinge wat ons leer, is dat lug opstyg. Sy moes so baie lug ingesluk het van al die gelag dat sy soos ’n ballon in die lug opgestyg het.”

“Ai, ai, ai,” huil Zimkhitha se ouers.

“Daar is net een manier om haar af te kry,” sê die gawe vrou. “Ons sal haar moet laat huil.”

“Goeiste,” sê haar ma. “Dit gaan nie maklik wees nie. Sy is so ’n giggelende kind.”

“Ons sal vir haar iets vreesliks moet skree,” sê Zimkhitha se pa, en snik in sy sakdoek.

“Ons het baie mense nodig wat almal saam kan skree,” sê die vrou. “Sy sal nooit net die drie van ons hoor nie.” Hulle lui toe al die deurklokkies en vra die mense om buitentoe te kom. Zimkhitha se pa stop die verkeer en vra almal om te kom help. Gou is daar ’n groot skare byeen, en hulle wys en wuif en neem foto’s van Zimkhitha met hulle selfone.

Zimkhitha lag en lag. Dit is die snaaksste ding wat sy nog ooit gesien het.

“Wat gaan ons sê om haar te laat huil?” vra die gawe vrou.

“Ek weet!” sê Zimkhitha se pa, en hy sê vir hulle wat om te sê.

“Een, twee, drie, almal saam …” beveel die gawe vrou.

En toe kyk die skare in die lug op en skree: “Haai, luister Zimkhitha! Ons kan onder jou rok insien!” Hoog bo in die wolke hoor Zimkhitha hulle. Sy kyk af en sien vyf honderd mense wat na haar rok wys, en sy hou op lag.

Sy begin ondertoe sweef. Maar terwyl sy sweef, kielie die wolke haar, en sy dink hoe snaaks dit is dat sy so hoog in die lug is terwyl al die ander mense daar onder is. En sy begin weer lag.

“Ag, nee,” sê haar pa. “Dit het glad nie gewerk nie.”

“Ek weet!” sê haar ma. “Sê vir haar ons kan haar kolletjiesbroekie sien.”

Die skare haal diep asem en skree so hard hulle kan: “Haai, luister Zimkhitha! Ons kan jou kolletjiesbroekie sien!”