Ek speel volleyball.

Jip, onsportiewe ek.

Dit kos wel ‘n volle halfuur voor Pierre my oorreed kry om saam te speel.

Drikus-met-die-sixpack-en-die-rooi-swembroek lyk verbaas om my te sien.

Hy grinnik vir Pierre. “Hoe het jy dit reggekry om haar om te praat? Nou die dag toe ek haar vra, wou sy nie speel nie.”

“Jy moet net weet hoe,” sê Pierre en knipoog vir my.

Ek wens ek kan sê ek ontpop skielik as ‘n volleyball-kampioen.

Fat chance.

Ek het soveel ball-sense soos ‘n baksteen.

Ons span verloor myle ver teen Drikus-hulle.

Gelukkig is Pierre se pelle almal baie nice. Nie een van hulle is suur omdat ek so vrot speel nie.

Ná die tyd sak ek stokflou langs Pierre op die warmgebakte sand neer. Hy bring twee blikkies Coke uit sy rugsak te voorskyn. Die yskoue koeldrank is heerlik.

“Daar’s volgende Vrydagaand ‘n stranddans hier op die strand,” sê hy. Hy klink skielik ‘n bietjie ongemaklik. “Jy wil nie dalk … ek bedoel … sal jy …?”

Ek glimlag. “Ek moet jou waarsku, ek’s nie die greatste danser op aarde nie. En ek kan nie waarborg dat jou tone veilig gaan wees nie. Maar ek sal graag saam met jou wil gaan.”